Geweld in Gaza duur voort ondanks oproepe vir skietstilstand  

Israel gaan voort met sy aanvalle in die suide van Gaza. (Foto: AFP)

Ondanks ʼn eis van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad was daar Dinsdag nog geen teken van ʼn skietstilstand in die oorloggeteisterde Gaza-strook nie. Gevegte tussen Israelse troepe en die Palestynse terreurgroep Hamas woed steeds in dié gebied voort.

Maroela Media het vroeër berig dat die Veiligheidsraad ʼn onmiddellike en blywende skietstilstand vir die maand van Ramadan geëis het.

Hoewel die VSA, Israel se bondgenoot, Maandag buite stemming gebly het, het al 14 ander lede van die Veiligheidsraad ten gunste van die nuwe resolusie gestem wat ook tot ʼn volhoubare wapenstilstand moet lei.

Suid-Afrika het die resolusie verwelkom en gesê dat die Veiligheidsraad die verantwoordelikheid het om te verseker daar word aan die resolusie – wat vir alle partye bindend is – voldoen.

Die resolusie eis ook die opskort van alle hindernisse vir die verskaffing van humanitêre hulp op groot skaal en dat Hamas gyselaars vrylaat wat tydens die groep se aanval op 7 Oktober gevangene geneem is. Israel vermoed dat 130 gyselaars steeds in Gaza aangehou word, waarvan 33 vermoedelik dood is. Dié gyselaars se vrylating word egter nie direk met ʼn wapenstilstand verbind nie.

Die VN se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, het ʼn sterk beroep gedoen dat die resolusie uitgevoer word.

“Die versuim om dit te doen sal onvergeeflik wees,” het hy op die sosialemediaplatform X (voorheen Twitter) gesê.

Israel was op sy beurt woedend oor die VSA se keuse om buite stemming te bly, aangesien dit tot die aanvaarding van die resolusie gelei het.

Die resolusie is die eerste een sedert die oorlog in Gaza uitgebreek het wat ʼn onmiddellike skietstilstand eis.

Die VSA, wat vorige pogings om ʼn resolusie aanvaar te kry geveto het, het volgehou dat sy keuse om buite stemming te bly nie ʼn uitwerking op sy beleid het nie, hoewel dié land die afgelope weke meer kritiek jeens Israel gehad het.

Gaza se gesondheidsdepartement het Maandag gesê 32 333 Palestyne is al in die oorlog dood. Die meeste van hulle is vroue en kinders.

Minstens 70 mense is glo Dinsdagoggend dood, waarvan 13 slagoffers na bewering die slagoffers van Israelse lugaanvalle was. Dié aanvalle het in die suidelike stad Rafah plaasgevind.

Hamas het self ook die Veiligheidsraad se resolusie verwelkom en opnuut sy gereedheid bevestig om oor die vrylating van gyselaars in ruil vir Palestynse gevangenes te onderhandel.

Hamas beskuldig Israel daarvan dat hy onlangse bemiddelingsgesprekke, wat deur Katar onderneem is, belemmer het. Die groep meen Israel is die rede waarom daar tot dusver nog nie ʼn ooreenkoms bereik is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Laksman ·

………….en die is nou nog die enigste oorlog wat aan die gang is in die wereld……nie nodig om enige druk elders te plaas nie?

Anel ·

En hier word ten minste 80+ mense per dag VERMOOR, en dit is nie eens oorlog hier nie! En daarvan word niks gesê nie. Vinnig om vinger te wys na ander. En ek glo Hamas is nog net so skuldig. Hulle verhoed self dat die hulp by die mense uitkom. En wat van die oorlog in Okraine? Maar nou ja, die een komunis beskerm die ander komunis. Israel moet net weet dat Suid Afrika se gewone mense hulle ondersteun. Suid Afrika is nie die a en c nie!

Nici ·

Daar is baie mense dood ja en Hamas weier steeds om die gyselaars vry te stel en sodoende die oorlog te help beeindig. Israel het geen keuse as om hul mense te probeer red nie.

louis ·

Isreal moet voorgaan om Hamas uit te wis …laat die mense wat oor is na ander lande gaan en maak gaza heeltemal skoon ….mask Gaza leeg en neem oor

Oosieoos ·

Stem saam Louis moet nie dieselfde fout as ons maak nie maak skoon anders betaal hulle selfde prys as ons anargie

Michael ·

Ek stem saam vernietig die hamas terroriste dan kan daar vrede vir almal wees.

Vanessa ·

Stop die oorlog. Soveel onskuldige mense sterf. Kinders het nie gevra of deel te wees van die oorlog nie.

Danie ·

Al hoe jy van onkruid onslae raak is deur dit met wortel en al uit te trek. Maak skoon en kry klaar want as jy nou stop dan sit jy met n plaag oor n jaar of wat.

Ditsim ·

Ek glo nie hamas se getal mense dood nie. Ek glo niks wat hulle sê nie.

Catherina ·

Al wat mens hoor en sien op media, is hoe erg die een kant ly…..WAT VAN ISRAEL?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.