SA verwelkom VN-Veiligheidsraad se eis vir Gaza-skietstilstand  

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. (Foto: ANGELA WEISS/AFP)

Suid-Afrika het die eis van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad vir ʼn onmiddellike skietstilstand in Gaza verwelkom.

“Suid-Afrika is bly dat die Veiligheidsraad uiteindelik ʼn onmiddellike en blywende skietstilstand vir die maand van Ramadan geëis het en dat die resolusie tot ʼn blywende volhoubare wapenstilstand moet lei,” het dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

Dit is nou die Veiligheidsraad se verantwoordelikheid om te verseker dat daar voldoen word aan die resolusie wat bindend op die partye is, het sy bygevoeg.

Die VSA, Israel se bondgenoot wat vorige pogings geveto het, het Maandag buite stemming gebly. Al 14 ander lede het ten gunste van die resolusie gestem wat “ʼn onmiddellike skietstilstand eis” in die Islamitiese heilige maand van Ramadan.

Die resolusie doen ook ʼn beroep op ʼn “blywende, volhoubare skietstilstand” en dat Hamas en ander militante se gyselaars vrygelaat word ná Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober.

Oomblikke nadat die VSA buite stemming gebly het, het Benjamin Netanyahu, Israel se premier, aangekondig dat hy nie meer ʼn afvaardiging na Washington sal stuur wat deur pres. Joe Biden versoek is om die situasie in Rafah, die suidelike Gaza-stad waar sowat 1,5 miljoen Palestyne skuiling geneem het, te bespreek nie.

Die resolusie “gee Hamas hoop dat internasionale druk hulle sal toelaat om ʼn skietstilstand te aanvaar sonder die vrylating van ons gyselaars,” het Netanyahu gesê.

Hamas het die resolusie verwelkom en gesê hy sal in gesprek tree oor ʼn uitruil van gevangenes wat deur Katar bemiddel word, ná herhaalde vertragings om ʼn ooreenkoms te bewerkstellig.

Die Withuis het daarop aangedring dat sy besluit om buite stemming te bly nie ʼn beleidsverskuiwing beteken nie.

Linda Thomas-Greenfield, die Amerikaanse ambassadeur by die VN, wat voorheen gewaarsku het dat druk op Israel voortgesette samesprekings in gevaar sou stel, het gesê Hamas moet nou die ooreenkoms aanvaar om gyselaars te bevry.

“ʼn Skietstilstand kan onmiddellik begin met die vrylating van die eerste gyselaar,” het Thomas-Greenfield gesê. “Dit is die enigste pad om ʼn skietstilstand te verseker.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andrew ·

Hulle het dieselfde met SA gedoen. Sal nou sien of Isreal soos die Afrikaner gaan pakslae kry.

kragaap ·

Tot Hamas die skietstilstand binne 72 uur verbreek deur missiele op Israel te loods.

Martie Smartie ·

Ja pragtig. Skietstilstand lank genoeg vir die terroriste om hulleself weer goed te bewapen en logistiek op te bou. Dan Israel weer aan te val en onskuldiges te verkrag, vermoor, verbrand en ontvoer. Dis mos wat die VN en VSA en RSA wil hê. Lieflike plan ne. Laat die kanker van Hamas weer mooi uitgroei.

annie ·

S@ tel nou ok onder die wêreld se groot dwase. Hoop Cyril op die volgende VN-baasstoel en erelidmaatskap van die Veiligheidsraad se kopafkapafdeling? Is Islam nou SA se hoofgodsdiens en gaan vroue binnekort kopdoeke moet dra omdat die geld op is vir fancy pruike? Enigiets is moontlik onder die ANC.

Sobymykoolkop ·

En toe die moslems Israel aangeval het op hulle Heilige dag het moslems geen genade betoon nie.

Amelia ·

Hoekom beveel die VN nie liewer dat die gyselaars moet vrygelaat word nie? Dit sal die situasie baie meer baat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.