Rare Siamese tweeling ná maande in hospitaal ontslaan

Safa en Marwa verlaat die hospitaal saam met hulle ma en ‘n familielid. Die foto is deur die hospitaal verskaf.

ʼn Siamese tweeling wat aan die bokant van hul koppe aan mekaar geheg was, is ná suksesvolle operasies en maande in ʼn hospitaal in Londen uiteindelik huis toe as twee klein dogtertjies.

Die tweeling is op 7 Januarie 2017 in ʼn hospitaal in Peshawar in Pakistan gebore. Safa en Marwa Ullah is op 19 maande na die Great Ormond Street-hospitaal in die Verenigde Koninkryk gebring.

Die tweeling moes drie groot operasies en verskeie kleiner prosedures ondergaan. Die groot operasies het langer as 50 uur geduur, oor ʼn tydperk van vier maande plaasgevind en ʼn span van 100 medici was daarby betrokke.

Die eerste operasie het in Oktober 2018 plaasgevind en die laaste operasie, waartydens die meisies finaal geskei is, het op 11 Februarie vanjaar plaasgevind. Die meisies is egter eers op 1 Julie uit die hospitaal ontslaan.

Safa en Marwa na hulle suksesvol geskei is. Foto deur die hospitaal verskaf.

Die meisies is nog in Londen saam met hulle ma, oupa en ʼn oom en hulle ontvang daagliks fisioterapiebehandeling as deel van hulle rehabilitasie.

Die tweeling se ma, Zainab Bibi, het die hospitaal geloof vir wat hulle vir haar dogtertjies gedoen het. “Ons is so opgewonde oor die toekoms.” Die tweeling se pa is twee maande voor hul geboorte oorlede, berig die BBC.

Dit is nie die eerste keer dat Siamese tweelinge by die Great Ormond Street-hospitaal geskei word nie. Siamese tweelinge wat aan hulle koppe geheg was, is ook in 2006 en 2011 suksesvol by dié hospitaal geskei.

Safa en Marwa voor hulle geskei is. Die foto is deur die hospitaal verskaf.

Die allernuutste tegnologie en chirurgiese tegnieke is gebruik om Safa en Marwa te skei. Die span medici wat hulle behandel het, het personeel van meer as 15 dissiplines in die hospitaal ingesluit, onder wie plastiese chirurge, narkotiseurs, teaterverpleegkundiges, wetenskaplikes en ingenieurs met kundigheid in 3D-modellering, VR-tegnologie en simulasies.

ʼn Vrygewige skenker het vir Safa en Marwa se behandeling by die hospitaal betaal.

Die volgende feite oor Siamese tweelinge wat aan hul koppe geheg is, is deur die hospitaal bekend gemaak:

  • Siamese tweelinge is uiters raar – net een in elke 2,5 miljoen geboortes.
  • Slegs in 5% gevalle van Siamese tweelinge is die tweeling aan hul koppe geheg.
  • Sowat 40% van Siamese tweelinge wat aan hulle koppe geheg is, word doodgebore of sterf tydens geboorte. ʼn Derde van dié wat die geboorte oorleef, sterf binne 24 uur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HPV ·

Stephen, jy is so reg. Wanneer dit hulle pas is die “infidels” se mediese tegnologie, voedsel, motors, lande, selfs wapens goed genoeg.

Smiley ·

Goeie nuus vir die dag, dankie.
Nico let net op “‘n vrygewige het vir Safa en Marwa se behandeling by die hospitaal behandel ” neem aan moet betaal wees.

Groete

Mariné Lourens ·

Dagsê Smiley

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die fout. Die berig is gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.