Reeksverkragter uit Londense polisie ontslaan

Argieffoto (New Scotland Yard) (Foto: Shaun Curry/AFP)

‘n Britse polisiebeampte, wat beken dat hy ʼn reeksverkragter is, is Dinsdag formeel ontslaan. Die regering versoek magte in die land om alle misdadigers en korrupte beamptes uit te roei.

David Carrick het skuld beken op 24 aanklagte van verkragting teen 12 vroue en ʼn rits ander seksmisdade oor twee dekades. Dit het skokgolwe deur die land gestuur en die publiek se vertroue in die polisie geskaad.

Daar is verdere druk op die Metropolitaanse polisie in Londen ná die ontvoering, verkragting en moord van ʼn jong vrou deur ʼn ander polisiebeampte twee jaar gelede.

ʼn Dag ná Carrick se bekentenis het Louisa Rolfe, adjunk-kommissaris van die Met, gesê sy saak is “walglik en verskriklik” en het “verreikende gevolge” vir polisiëring. “Ek hoop sowaar om nooit weer só iets te sien nie,” het sy tydens ʼn interne dissiplinêre verhoor gesê.

Die 48-jarige Carrick is uit sy pos in ʼn gewapende eenheid, wat LP’s en buitelandse diplomate beskerm, geskors toe die bewerings in 2021 aan die lig gekom het.

Interne verhore vind gewoonlik eers plaas ná strafregtelike verrigtinge teen ʼn beampte afgehandel is.

Carrick se saak is egter vervroeg ná hy skuld beken het en, onverwags, met die media begin gesels het gegewe die ongekende aard van sy misdade.

Prokureur Hywel Jenkins, wat Met-polisiekommissaris Mark Rowley verteenwoordig, het Carrick se misdade as “afgryslik en doelbewus” beskryf. “Dit het ʼn katastrofiese impak gehad op die slagoffers en hul families en het die vertroue in die polisiediens ondermyn,” het hy bygevoeg. “Die publiek van Londen verwag van polisiebeamptes om die wette te onderhou en vroue teen geweld te beskerm. Polisiekonstabel Carrick het presies die teenoorgestelde gedoen.”

Carrick, ʼn voormalige soldaat, het nie die verhoor bygewoon nie. Hy het ook nie enige regsverteenwoordiging gehad nie. Hy is weens growwe wangedrag ontslaan.

Hy sal in Februarie in ʼn hof gevonnis word.

Die publiek se vertroue in die Met het begin agteruit gaan met die skuldigbevinding van Wayne Couzens, wat in dieselfde eenheid as Carrick gedien het. Hy het Sarah Everard in Maart 2021 vermoor toe sy in Londen huis toe gestap het.

Couzens is lewenslange tronkstraf opgelê. Hy het valslik aangevoer sy het die Covid-19-inperkingsreëls verontagsaam toe hy haar van die straat af gegryp het.

In albei gevalle kon keuringsprosedures waarskynlik die beamptes vroeër geïdentifiseer het. Geen stappe is gedoen teen Couzens ná bewerings in 2015 dat hy homself ontbloot het, of teen Carrick, wat ʼn rits aanklagte teen hom gehad het nie.

Twee amptelike verslae oor die Met en ander magte in Engeland en Wallis het bevind dat keuringsprosedures gebrekkig is.

Rowley het in September verlede jaar, toe hy as kommissaris aangestel is, onderneem om “alle rassiste en vrouehaters wat ons ondermyn” aan die pen te laat ry. Dit het gevolg tot ʼn rits dissiplinêre stappe teen beamptes en in sommige gevalle ook strafregtelike vervolging. Meer as 1 600 bewerings van seksuele oortredings en huishoudelike geweld teen net meer as 1 000 Met-polisiebeamptes en -personeellede word tans hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blikkies ·

Met alle respek vir die eerbare opregte Polisie beamptes, maar kyk hoe gaan dit hier ook met korrupte tot geweldadige Polisie beamptes. Ek dink ons het ‘n meer groter probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.