Revlon doen aansoek om sakeredding

Argieffoto (Foto: Revlon/Twitter)

Die Amerikaanse skoonheidshuis Revlon het aansoek om sakeredding gedoen.

Die skoonheidshuis het Woensdag aansoek om hoofstuk 11-bankrotskapbeskerming gedoen in ʼn poging om sy skuld te herstruktureer. Dié skuld beloop tussen $1 miljard en $10 miljard. Aansoek om beskerming teen bankrotskap in die VSA is soortgelyk aan ʼn aansoek om sakeredding in Suid-Afrika.

“Vandag se aansoek sal Revlon in staat stel om die ikoniese produkte wat ons al dekades lank gelewer het, aan ons verbruikers te bied, terwyl dit ʼn duideliker pad vir ons toekomstige groei bied,” het Debra Perelman, uitvoerende hoof, in ʼn verklaring gesê.

Revlon, veral bekend vir sy naellak en lipstiffie, het in die eerste kwartaal langtermyn-skuldverpligtinge van $3,3 miljard (sowat R52 miljard) aangemeld.

Argieffoto (Foto: Revlon/Twitter)

Hoofstuk 11-bankrotskapbeskerming laat firmas toe om hulself te herstruktureer terwyl hulle teen krediteure beskerm word en voortgaan om te werk.

Die maatskappy het nou gesê hy verwag om finansiering ter waarde van $575 miljoen (sowat R9 miljard) van sy leners te ontvang indien sy bankrotskap in die hof goedgekeur word.

Revlon, wat deur die miljardêr-belegger Ronald Perelman besit word en deur sy dogter, Debra Perelman, bestuur word, het van Januarie tot Maart ʼn netto verlies van $67 miljoen aangemeld.

Die skoonheidshuis word intussen deur al hoe strawwer mededinging in die gesig gestaar.

Die maatskappy was in Augustus 2020 boonop in omstredenheid gewikkel toe Citibank onthul het dat hy per ongeluk $900 miljoen (sowat R14 miljard) aan verskeie Revlon-krediteure oorgedra het.

Die skoonheidshuis het toe ʼn klag ingedien teen ʼn beleggingsfonds wat geweier het om ʼn deel van die bedrag te betaal, maar die klag is in die hof van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Eintlik hartseer want die eintlike eintlike ontwikkelaars van skoonheidsmiddels Helena Rubenstein en Elizabeth Arden word net terloops vermeld as van die maatskappy se onderafdelings, was groot name in die vorige eeu. Skoonheidsrome, mooimaakmiddels en -behandelings is deur hulle uitgebou; vandag byna vergete figure in die nou multimiljardbedryf.

Wondermaarnet ·

Die produk is goed en duur, maar is dalk heeltemal te duur daarom kan mense met gemiddelde inkomste dit nie meer bekostig nie. Ek het jare lank Revlon gebruik, maar dit het net te duur geraak. Daar is ander goeie produkte op die mark wat meer bekostigbaar is.

KatjieDeKat ·

Daar is gelukkig hope ander kosmetiekhuise. Maybelline, Essence, Yardley eg.

Elma ·

laaaankal te duur vir my sak. En raak net so vinnig op soos goedkoper “brands”. In my opinie is die Essence reeks se lipstiffie, oogpotlode, onderlaag ens, net so goed en n derde van die prys van Revlon.

KatjieDeKat ·

Yes! Essence is uitstekend en bekostigbaar. Firmas moet begin besef: Die lewe het Duur geword. As jou produkte nie bekostigbaar is vir die meeste gewone mense nie, Sal jou besigheid een of ander tyd ondergaan. En reg so, ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.