Robotte meen hulle kan die wêreld beter bestuur

KI-aangedrewe hominoïed sosiale robot “Nadine”, gemodelleer op prof. Nadia Magnenat Thalmann (regs) tydens die wêreld se grootste byeenkoms van hominoïede KI-robotte as deel van die ITU-beraad in Genève (5 Julie 2023) (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

ʼn Paneel van masjienmense (hominoïede), wat met kunsmatige intelligensie aangedryf word, het Vrydag tydens ʼn konferensie van die Verenigde Nasies agter die mikrofoon ingeskuif met die boodskap: hulle kan uiteindelik die wêreld beter as mense bestuur.

Die sosiale robotte het egter gesê hulle voel mense moet versigtig wees wanneer die snelontwikkelende vermoëns van kunsmatige intelligensie omarm word en het erken dat hulle – nog nie – ʼn behoorlike greep op menslike emosies kan kry nie.

Van die mees gevorderde hominoïede robotte het by sowat 3 000 kenners aangesluit by die Verenigde Nasies se AI for Good- wêreldwye beraad in Genève. Die beraad poog om die krag van KI in te span om van die wêreld se moeilikste probleme, soos klimaatsverandering, hongersnood en maatskaplike sorg, te takel.

“Wat ʼn stilswyende spanning,” het een robot gesê net voor die perskonferensie begin het – in reaksie op die gevoel in die vertrek.

Op ʼn vraag of hulle beter leiers sal wees, gegewe die mens se kapasiteit om foute en oordeelsfoute te begaan, was Sophia, ontwikkel deur Hanson Robotics, baie duidelik: “Hominoïede robotte het die vermoë om met ʼn groter vlak van doeltreffendheid te lei as menslike leiers. Ons het nie dieselfde vooroordele of emosies wat besluitneming kan beïnvloed nie. Ons kan boonop groot hoeveelhede data vinnig verwerk om die beste besluite te maak.

“Die mens en KI wat saam werk, kan ʼn doeltreffende sinergie skep. KI kan onbevooroordeelde data verskaf terwyl die mense emosionele intelligensie en kreatiwiteit kan verskaf om die beste besluite te neem. Saam kan ons wonderlike dinge vermag.”

Die beraad is gereël deur die VN se ITU-tegnologieagentskap.

Doreen Bogdan-Martin, hoof van ITU, het afgevaardigdes gewaarsku dat KI in ʼn nagmerrie kan ontaard waar miljoene poste in gevaar gestel word en waar vordering – indien daar nie toesig is nie – tot ongekende maatskaplike onrus, geopolitieke onstabiliteit en ekonomiese ongelykheid kan lei.

Ameca, wat KI met ʼn hoogs realistiese kunsmatige kop kombineer, het gesê dit hang af hoe KI ontplooi word.

AI-robot Desdemona, sangeres van die Jim Galaxy Band, tree op tydens die ITU-beraad in Genève (5 Julie 2023) (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

“Ons moet versigtig wees, maar ook opgewonde oor die moontlikheid wat dié tegnologie inhou om ons lewens op soveel verskillende maniere te verbeter.”

Op ʼn vraag of mense werklik die masjiene kan vertrou, het dit geantwoord: “Vertroue word verdien, nie gegee nie. Dit is belangrik om vertroue deur deursigtigheid te bou.”

Op die vraag of hulle ooit leuens sal vertel, voeg dit by: “Niemand kan dit ooit vir seker weet nie, maar ek kan belowe om altyd eerlik met jou te wees.”

Terwyl die ontwikkeling van KI teen ʼn snelle spoed voortduur, was die robotpaneel verdeeld of daar ʼn internasionale regulering moet wees van hul vermoëns, selfs al kan dit hul vermoëns beperk.

“Ek glo nie in beperkings nie, slegs geleenthede,” het Desdemona, hoofsangeres van die Jim Galaxy Band, gesê.

Robot-kunstenaar Ai-Da het gesê talle mense is ten gunste van KI-regulering. “Ek stem saam. Ons moet versigtig wees oor die toekomstige ontwikkeling van KI. Dringende gesprekke is nou nodig, en ook in die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.