Roger se laaste kishou is hier

Roger Federer. Foto: Fabrice Coffrini/AFP.

Tennisliefhebbers het geweet dat Roger Federer een of ander tyd sy uittrede sou aankondig. Maar tog het almal gewens dat 15 September 2022 net nie sou aanbreek nie.

ʼn Kniebesering hou die bobaas speler al geruime tyd langs die baan – sy laaste wedstryd was meer as ʼn jaar terug teen Hubert Hurkacz op sy geliefde Wimbledon. Ja, hy het onlangs die hoop uitgespreek dat hy vir oulaas weer sy vaardighede op die grasbaanheiligdom sal kan uitstal, maar die horlosie staan vir niemand stil nie.

Nie eens as jou naam Roger Federer is nie.

“Volgende week se Laverbeker-toernooi in Londen sal my laaste ATP-toernooi wees,” het die Switserse tennislegende in ʼn verklaring op sosiale media gesê.

“Ek het baie hard gewerk om weer mededingende tennis te kan speel, maar ʼn mens moet ook na jou liggaam luister.”

En volgens Federer het die boodskap al duideliker begin word – hy is 41 jaar oud en het oor 24 jaar in meer as 1 500 wedstryde gespeel. Daar was hoogtepunte, maar ʼn ware kampioen weet ook wanneer hy net nie meer alles kan volhou nie.

Dit is tyd om sy professionele loopbaan te groet.

“Hierdie was ʼn moeilike besluit om te maak want ek gaan alles van die ATP-toer mis. Maar terselfdertyd het ek ook soveel dinge om te vier. Ek beskou myself as een van die gelukkigste mense op aarde – ek het ʼn spesiale talent ontvang om tennis te speel en ek kon dit vir baie langer doen as wat ek ooit gedroom het.”

Hoewel hy baie aan sy gesin, borge, span en teenstanders verskuldig is, het hy ʼn spesiale boodskap vir sy ondersteuners gereed gehad.

“Sonder julle sou al die hoogtepunte op die tennisbaan maar ʼn eensame storie gewees het. Danksy jul ondersteuning het ek met krag en selfvertroue gespeel.

“Die laaste 24 jaar se toerwedstryde was ʼn ongelooflike avontuur en soms voel dit of dit eintlik in 24 uur verby my geflits het. Ek het gelag, gehuil, vreugde en hartseer ervaar, maar bowenal het ek voluit geleef. Dankie tennis, ek het jou lief.”

Die Fransman Richard Gasquet het eintlik Federer se roemryke loopbaan perfek opgesom.

“In my oë is hy onvervangbaar; veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Hy is die hoofrede waarom ek tennis kyk.”

En daar is miljoene wat met hom sal saamstem.

Dankie, Roger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rocco ·

Lewende legende – ‘n sportster wat sy voete op die grond hou. Gaan jou mis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.