Rusland ‘lei gevegsdolfyne op’ in Krim-skiereiland

‘n Skermgreep van Hvaldimir. (Video: Twitter)

Britse weermagspioene het Vrydag beweer Rusland lyk of hy gevegsdolfyne in die geannekseerde Krim-skiereiland oplei om Oekraïense magte te beveg.

In sy jongste bywerking oor die konflik het Britse Verdedigingsintelligensie gesê die Russiese vloot het sedert verlede jaar kwaai belê in veiligheid by die Swartsee-vloot se hoofbasis by Sevastopol.

“Dit sluit in minstens vier lae van nette en valhekke na die hawe-ingang. In onlangse weke is die verdedigingsmeganismes waarskynlik ook verskerp deur aansienlik meer opgeleide seediere.

“Beelde wys ʼn amperse verdubbeling van drywende mariene soogdierkampe in die hawe, wat hoogs waarskynlik spitssnoetdolfyne huisves.”

Die dolfyne is waarskynlik veronderstel om “vyandige duikers” te beveg.

Die Russiese vloot het witdolfyne en robbe al vir verskeie sendings in die Arktiese water ingespan, lui die inligting.

ʼn Walvis met ʼn harnas het in 2019 in Noorweë sy opwagting gemaak en bespiegeling laat ontstaan dat dit vir waarneming gebruik is. Die walvis het verlede maand weer sy opwagting aan die Sweedse kus gemaak.

Noorweërs het dit die bynaam “Hvaldimir” gegee, ʼn woordspeling vir die woord “walvis” in Noorweegs (hval) en ʼn verwysing na die beweerde band met Rusland.

Hvaldimir se harnas het ʼn ruimte gehad vir die plaas van ʼn aksiekamera en die woorde “Equipment St. Petersburg” is op die plastiekhandvatsels gedruk.

In 2016 het Rusland se departement van verdediging probeer om vyf dolfyne te koop as deel van pogings om sy Sowjet-era-gebruik van die hoogs intelligente seediere vir weermagtake voort te sit.

Die Sowjetunie en die VSA het tydens die Koue Oorlog dolfyne gebruik, onder meer om duikbote en myne, asook verdagte voorwerpe of mense naby hawens en skepe uit te snuffel.

ʼn Afgetrede Sowjet-kolonel het aan AFP gesê Moskou het in daardie stadium selfs dolfyne opgelei om ploftoestelle op skepe van die vyand te plant.

Hulle het geweet hoe om verlate torpedo’s en skeepswrakke in die Swartsee op te spoor, sê Viktor Baranets, wat ʼn ooggetuie van dolfynopleiding in die Sowjet-era en die tye daarna was.

Die Amerikaanse vloot het seeleeus in 2003 in Bahrein as deel van Operation Enduring Freedom ná die 9/11-aanvalle gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gaitsigubib ·

Dis stok ou nuus wat nou net weer vir sensasie n herlewing kry. Ek sien alles word nou weer delete so ek vestig maar net jou aandag daarop, dat die CIA die meesters op hierdie goed is. Hou nou die media dop om te sien hoe hulle almal vertel dat hulle dit nie meer doen nie.

Marthinus W ·

Indien mens die sagteware TinEye gebruik, wys dit dat die foto die eerste keer op 2 Mei 2019 op die net verskyn het, op n Litouse webwerf, “15min”. Gesien die haat wat die Litouers vir die Russe het, sal ek die berig met n knippie sout neem.

Gaitsigubib ·

Ek sal nou die berig mooi lees, maar ek moet eers noem dat die media meesters is om mense emosioneel te manipuleer. Die Anti- Rusland sentiment sal seker nou n boost kry? Kom ons looi sommer mekaar nou met atoombomme! Die feit dat die VSA afgryslike goed aan hul eie mense doen maak seker nie nou saak nie. Om ‘n hele land se mense met agent orange te spuit is b.v. sommer niks nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.