Rusland wil by wees met Navalny-ondersoek

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Rusland wil na bewering van sy eie personeel teenwoordig hê tydens Duitsland se ondersoek na die vermoedelike vergiftiging van die Russiese opposisieleier Alexei Navalny.

Navalny is aan die herstel en kan na bewering weer praat nadat hy verlede week uit ʼn medies geïnduseerde koma gebring is, berig Sky News.

Dít terwyl spekulasies rakende sy vermoedelike vergiftiging voortduur. “Die [Russiese] departement van binnelandse sake gaan toestemming vra vir Russiese ondersoekers en kundiges om teenwoordig te wees tydens Duitsland se ondersoek waarby Navalny, dokters en kundiges betrokke is,” het die Russiese staatsnuusagentskap Tass Vrydag berig.

Navalny het verlede maand op ʼn vlug na Moskou onverwags siek geword. Die Kremlin word deur Navalny se span van vergiftiging verdink aangesien hy volgens Duitse dokters met Novichok vergiftig is. Dit is dieselfde soort senumiddel uit die Sowjet-era wat in ʼn aanval op ʼn voormalige Russiese spioen in 2018 gebruik is.

Die owerhede in Rusland weier egter glo volstrek om ʼn kriminele saak rakende die voorval aanhangig te maak aangesien Russiese wetstoepassers en gesondheidsamptenare daarop aandring dat géén bewyse van vergiftiging in Navalny se sisteem gevind is toe hy aanvanklik in ʼn hospitaal in Omsk, Rusland, behandel is nie.

Die Russiese aanklaer-generaal se kantoor het intussen die Duitse owerhede gevra om hul bevindinge rakende Navalny se toestand bekend te maak.

Navalny word tans in ʼn hospitaal in Berlyn, Duitsland, behandel waar sekuriteit glo opgeskerp word aangesien die opposisieleier meer besoekers gaan ontvang nou dat sy toestand verbeter het, berig die Duitse tydskrif Der Spiegel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Issie net hulle s’n nie, Mariana. Jy praat so asof Suid Afrika beter is. Die Russe is net meer gesofistikeerd. Selfs hulle kroeks.

Dirk Mostert ·

Dit maak nie sin dat die Russe hom vergiftig het en toelaat dat hy in Duitsland behandel word nie. Die Duitsers se “bevinding” is waarskynlik polities gemotiveer, netsoos ‘n soortgelyke geval in Engeland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.