‘Russiese troepe moet padgee’ – Oekraïne

(Foto: Anatolii Stepanov, AFP)

Oekraïne vra vir ʼn onmiddellike skietstaking en eis dat Russiese troepe uit die beleërde land padgee.

Dit kom te midde van tientalle sterftes van Oekraïners, ook kinders, en duisende ander mense wat probeer uit die land vlug.

Leiers van Oekraïne gaan Maandag met hul Russiese eweknieë vergader oor moontlike maniere om die gevegte te beëindig.

Oekraïne se afvaardiging gaan Russiese verteenwoordigers aan die grens van Belarus ontmoet vir die eerste gesprekke sedert die Russe die land ingeval het. Belarus, wat ʼn bondgenoot van Rusland is, het glo Russiese troepe toegelaat om Oekraïne in te val.

“Die Oekraïense afvaardiging het by die grens met Belarus aangekom om aan gesprekke met verteenwoordigers van die Russiese Federasie deel te neem,” het die Oekraïense presidensie in ʼn verklaring gesê.

“Die sleutelkwessies wat bespreek gaan word, is ʼn onmiddellike skietstaking en Rusland se onttrekking van sy troepe uit Oekraïne.”

Die Oekraïense afvaardiging bestaan uit die minister van verdediging, Oleksii Reznikov, en adjunkminister van buitelandse sake, Mikola Tochitski.

Wolodimir Zelenski, president van Oekraïne, het in ʼn afsonderlike verklaring gesê hy is skepties oor die moontlikheid van ʼn deurbraak tydens die gesprekke.

“Soos altyd glo ek nie regtig in die uitkoms van hierdie vergadering nie, maar laat hulle probeer,” het hy gesê.

Hy het intussen Russiese troepe gevra om aanvalle te staak en die slagveld te verlaat om hul eie lewens te red.

Zelenski beweer dat meer as 4 500 Russiese soldate reeds hul lewens in die stryd tussen Rusland en Oekraïne verloor het.

Hy het ook ʼn beroep op die Europese Unie (EU) gedoen om ʼn spesiale proses van stapel te stuur sodat lidmaatskap van die EU dadelik aan Oekraïne toegestaan kan word.

Intussen probeer Oekraïne steeds Russiese magte uit Kharkiv verdryf.

Meer as 100 dood

Die Verenigde Nasies (VN) se menseregtehoof het vroeër vandag gesê meer as 100 Oekraïners is dood in gevegte sedert Rusland die land vyf dae gelede aangeval het.

Michelle Bachelet het aan die VN se menseregteraad gesê dat altesame 304 burgerlikes in die aanvalle beseer is en minstens 102 mense dood is. Sewe van die slagoffers is kinders.

“Die werklike sterftesyfer, vrees ek, is aansienlik hoër,” het sy gesê.

“Die meeste van hierdie burgerlikes is dood in lugaanvalle en weens ploftoestelle met ʼn wye impakgebied, asook swaar artillerie en lanseervuurpylstelsels.

“Miljoene burgerlikes, onder wie kwesbare en ouer mense, word gedwing om in verskeie vorme van bomskuilings, soos ondergrondse stasies, weg te kruip om van ontploffings en lugaanvalle te probeer ontsnap.”

Bachelet het daarop gewys dat die VN se vlugtelingagentskap reeds 368 000 mense getel het wat as vlugtelinge uit die land vlug.

“Die oproepe vir vrede wat van individue reg oor die wêreld kom, wys daarop dat ons toekoms nie een moet wees wat gesamentlike ooreengekome internasionale menseregtewetgewing verontagsaam nie,” sê sy.

“My gedagtes en gebede gaan uit na elke Oekraïense burger en diegene wêreldwyd wat swaar kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

AW ·

Rusland is en sal maar vir my ‘evil’ wees !!

En julle mag verskil .

JohanR ·

Russe hulself is die mees wonderlike gasvrye mense, maar soos AW se miskien moet hulle beter leiers kies?

boerie ·

Rysland het gedink dit sal net n uitstappie in die park wees, nou is hulle wreed ontnugter.

Anoniem ·

Die “straat oorlog” kan nog lank aanhou, kyk maar wat het in Bosnia gebeur.

Kerneels ·

Moet bieg boerie, ek nogal respek gekry vir die klomp oud-kossakke wat so manhaftig hakke inkap

Kerneels ·

Daar is ‘n anderkant van die storie ook – soos altyd. Moenie vasgevang word in die hoofstroom media nie.

Herman ·

Ek stem. As jy die nuuskanale en media volg, sien jy net die een kant.

VaalDonkie ·

Daar is al vir 8 jaar lank etniese geweld teenoor die Russies-sprekende inwoners van die ooste van Oekraiene. En nou die dag toe dreig Zelensky vir Putin met kernoorlog. So ja.

Kerneels ·

Gaan lees self. Doen bietjie moeite om feite te kry, nie sensasie en opinies nie.

Anna-marie ·

Hou op om na die hoofstroommedia te kyk en te luister. Hulle vertel leuns, propaganda, FAKE NEWS. Gaan kyk na Dr Steve Turley en The DURAN op Youtube.

Ben ·

Audi alteram partem. Oekraine het doelbewus die ooreenkoms met Rusland dat hulle NIE sal probeer om by die EU of NAVO aan te sluit nie, verbreek. Verskeie lande van die EU, waaronder Duitsland, was mede ondertekenaars van die ooreenkoms en die VSA was ook teenwoordig.
Dié onnossele optrede van Oekraïne (en die VSA) kan ‘n domino effek hê waar Rusland, Sjiena, Noord Korea, Iran en andere die patetiese, swak leierskap van veral die VSA uitbuit en hulle “vyande” aanval – 3de wêreldoorlog

Luister ·

Daar is baie ooreenkomste wat Rusland ook maar heeltyd verbreek. Die feit is, dit is geen rede om ‘n land binne te val en onskuldige mense dood te maak nie. Poetin is vir geen rede bang nie. Wie wil Rusland binneval?
O, en hulle het nie by NAVO aangesluit nie – so wat is die werklike rede?

VaalDonkie ·

NAVO in Oekraiene is presies dieselfde as die Kubaanse Missiel-krisis. Dis net die rolle wat omgeruil is. Ek sou ook nie baie gaande wees daaroor as ek Putin was nie.

JohanR ·

Ek dink Putin se dae is getel, maar hy sal nog miskien een laaste dingetjie doen, en dit is ‘n kernbom laat val iewers?

Dirk Mostert ·

Te oordeel aan Oekraine-woordvoerders is Oekraine besig om te wen. Net burgerlikes wat getref word, die soldate kom niks oor nie. Omtrent alle Russiese tenks en vliegtuie is glo al uitgewis.

Kerneels ·

Nie sleg vir ‘n klomp kossakke om die 2de grootste weermag in die wereld pakslae te gee nie!

E ·

Laat my dink aan ‘n ander oorlog 120 Jaar gelede…David teen Goliat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.