Ryanair se Afrikaans-toets: Kern van probleem is vervalste SA-paspoorte

(Foto: Ryanair/Facebook)

Die Demokratiese Alliansie sê hy het ʼn getal navrae gehad oor die Verenigde Koninkryk se laekostelugdiens Ryanair se besluit om Suid-Afrikaanse paspoorthouers ʼn Afrikaanse vraelys te laat voltooi.

“Die DA veroordeel Ryanair se vreemde benadering. Dit is belaglik om ʼn Suid-Afrikaner se burgerskap te assesseer deur die persoon se vermoë om Afrikaans te praat. ʼn Persoon se vermoë om ʼn spesifieke taal te kan praat is nie ʼn kriterium vir burgerskap nie,” sê Manny de Freitas, die DA se skaduminister van toerisme.

Maroela Media het vroeër berig die vraelys bevat vrae oor Suid-Afrikaanse algemene kennis. Ryanair het die toets verdedig en gesê dit skakel diegene uit wat met vervalste Suid-Afrikaanse paspoorte reis. “Weens die hoë voorkoms van vervalste Suid-Afrikaanse paspoorte, vereis ons dat passasiers wat na die VK reis ʼn eenvoudige vraelys invul wat in Afrikaans uitgereik word,” het die lugdiens gesê. “As passasiers nie hierdie vraelys kan voltooi nie, sal hul reis geweier word en hul vluggeld sal ten volle terugbetaal word.”

De Freitas bevestig maatskappye soos Ryanair moet hulself tot dié maatreëls wend weens die getal vervalste Suid-Afrikaanse paspoorte wat oor die Verenigde Koninkryk se grense heen gebruik word. “Die wortel van die probleem is dus die Suid-Afrikaanse regering wat klaarblyklik nie streng genoeg prosesse in plek gestel het om die integriteit van Suid-Afrikaanse paspoorte te verseker nie.”

De Freitas sê dit is net nóg ʼn voorbeeld van hoe die Suid-Afrikaanse staat sy burgers elke dag versaak. “Nou word wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse toeriste oor dieselfde kam geskeer as diegene met vervalste paspoorte. Toeriste wat die DA gekontak het, beskryf hul verleentheid dat die Suid-Afrikaanse regering deur Ryanair beskou word as ʼn ondoeltreffende regering wat nie sy eie paspoorte kan beskerm nie.”

Hy voeg by die regering moet dadelik optree om vervalsing van paspoorte hok te slaan. “Die DA sal Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, skriftelik nader om navraag te doen oor sy planne in die verband.”

Die departement het intussen aan Fin24 gesê hy het ʼn 24-uur-kontaklyn wat lugdienste kan gebruik om Suid-Afrikaanse reisigersdokumente na te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dries ·

Ek reken dis n goeie plan vd lugredery.Daar is meer mense wat Afrikaans verstaan,as bv. Zulu of Khoza.SA regering moet hulle koppe in skaamte laat sak dat so n drastiese stap hoegenaamd nodig is.

Agge nee ·

Belaglik. Alle Suid Afrikaners is nie noodwending Afrikaanssprekend nie.

wim ·

Almal is nie Afrikaanssprekend,maar die kanse is goed dat SA reisigers ‘n Afrijkaanse vraag kan ontsyfer. Of is jy, soos Minister Blade, oortuig , dat net Engels gebruik moet word?

Hennie ·

Ek stem 100% saam met Ryanair. Alle saffers word soos kriminele behandel oorsee omdat paspoorte verkoop word deur kriminele in Binnelandse Sake. Doen so voort –

Frank John ·

Iewers gaan dié regering van die land hulleself moet regruk.

annie ·

Die DA lief nie Afrikaans nie. Net wanneer hulle bekommerd is oor hul geldjies en ledetal kom Afrikaans in die prentjie. Hoeveek keer het Helen en John al Afrikaans tydens toesprake gebesig? Afrikaners moet swymel van blydskap as die DA aandag aan hul belange gee. Kyk hoe vinnig het Steenhuisen op ‘n vliegtuig geklim na Oekraïene om ondersteuning te bied. Was hy al ooit in Bloemfontein? En wanneer?

Johan ·

Nou lekker gelag. Ten minste dink ander lande Afrikaans is belangrik, maar ja nie almal kan Afrikaans praat in die land nie. Nou moet ek net die geld kry om ‘n kaartjie te koop, my taal is reg!

agnes ·

Dit is n slim en welbedagde plan. Almal sal n eenvoudige Afrikaanse lys kan invul. Net jammer dat soiets aangedui is en nodig is .

Oljetter ·

Van wanneer af is Ryanair n Britse onderneming? n Groen SA paspoort word al dekades lank met weinig respek in Europa bejeën om verstaanbare redes. Doen aansoek vir n Shengen visa en kyk hoe jy behandel word deur amptenare van verskillende EU lidlande. Die suspisie en vooroordeel word nie juis verskuil nie. SA het n reputasie van misdadigheid, n feit wat bevestig word deur die aantal Sa’ners in Europese tronke wat daar sit vir dwelmsmokkelary en soortgelyke misdade. Die onskuldiges pluk daardie vrugte.

Miskruier ·

Dit wat waardevol was het waardeloos geword deur n onetiese regering.

Eden ·

Dis ‘n goeie rede om Ryan Air te ondersteun. Nou moet ek net eers ‘n vlugkaartjie Pommie-lamd toe lan bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.