Shinzo Abe: Psigiatriese evaluering vir vermeende moordenaar

Shinzo Abe (Foto: Kazuhiro NOGI/AFP)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy Japan se voormalige eerste minister doodgeskiet het, moet ʼn psigiatriese evaluering ondergaan.

Shinzo Abe (67) is op 8 Julie in die hospitaal dood nadat hy vroeër dieselfde dag tydens ʼn verkiesingsveldtog geskiet is.

Die man wat van die sluipmoord op Abe beskuldig word, is deur die polisie uitgeken as Tetsuya Yamagami.

Die polisie sê die werklose 41-jarige man het skuld beken op aanklag dat hy Abe met ʼn handgemaakte vuurwapen geskiet het.

Yamagami moet nou op versoek van staatsaanklaers ʼn psigiatriese evaluering ondergaan om vas te stel wat die toestand van sy geestesgesondheid op die betrokke dag was. Abe is vermoedelik geteiken omdat die vermeende moordenaar geglo het dat Abe aan die Unification-kerk verbonde is.

Yamagami het vroeër aan die polisie gesê hy het ʼn wrok teen dié spesifieke kerk.

Hy wou na bewering oorspronklik die hoof van die kerkgroep teiken, maar het toe sy fokus na Abe verskuif omdat hy geglo het Abe het die kerk in Japan bevorder, berig Kyodo News, aldus anonieme bronne.

Die evaluering sal na verwagting in November afgehandel wees.

Ondersoekers sal hul ondervraging intussen staak terwyl die evaluering voortduur.

Aanklaers sal eers ná afloop van die evaluering bepaal of Yamagami strafregtelik aanspreeklik gehou kan word voordat hulle hom formeel aankla.

Abe was besig om ʼn toespraak te lewer toe die voorval plaasgevind het. Beeldmateriaal wat deur NHK uitgesaai is, wys hoe hy op ʼn verhoog staan voordat ʼn harde ontploffing gehoor kan word en rook in die lug sigbaar is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.