Oudpremier van Japan sterf ná skietaanval

Shinzo Abe Japan

Shinzo Abe. (Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi)

Japan se voormalige premier Shinzo Abe (67) is Vrydagmiddag in ʼn hospitaal dood verklaar nadat hy vroeër dieselfde dag tydens ʼn verkiesingsveldtog geskiet is.

Abe was om 12:20 na ʼn hospitaal geneem waar sy hart met sy aankoms gaan staan het.

“Resussitasie is toegepas, maar ongelukkig is hy net ná 17:00 oorlede,” het Hidetada Fukushima, professor in noodgeneeskunde by die Nara‑ mediese universiteitshospitaal, aan plaaslike verslaggewers gesê.

Abe was besig om ʼn toespraak te lewer toe die voorval plaasgevind het. Hy het skietwonde aan sy nek en bors opgedoen, terwyl een koeël deur sy linkerskouer gegaan het.

“Abe het ten spyte van herhaaldelike bloedoortappings op die ou end net te veel bloed verloor.”

Akie Abe, die oorlede oudpremier se vrou, het kort voor sy dood by die hospitaal aangekom.

Die beweerde skieter is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

Medelye van reg oor die wêreld het intussen ingestroom, met die Duitse kansellier Olaf Scholz wat gesê het hy is “hartseer oor die dodelike aanval op Abe”.

“Ek betuig my innige simpatie met sy familie, my kollega Fumio Kishida en ons Japannese vriende. Ons staan saam met Japan in hierdie moeilike tyd.”

Scholz se voorganger, Angela Merkel, het Abe as ʼn “noue vriend en kollega” beskryf.

“Japan en die wêreld het ʼn uitstekende politikus verloor,” het sy gesê.

“Sy woord het gewig gedra en jy kon op sy besluite staatmaak. Sy humor het altyd gehelp om enige weerstand te oorwin. Ons sal hom met groot dankbaarheid en hartseer onthou.”

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Merkel se sentiment oor die soort premier wat Abe was, gedeel.

“Hy het sy lewe aan sy land toegewy en daartoe bygedra om stabiliteit in die wêreld te bring.”

Pres. Cyril Ramaphosa en Shinzo Abe. (Foto: Elmond jiyane, GCIS)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Reaksie op die aanval dui aan dat bolle rook na die twee skote opgestyg het wat toon dat dit nie gewone geweerskote was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.