Ergste gevrees ná aanval op oudpremier van Japan  

Shinzo Abe (Foto: Kazuhiro NOGI/AFP)

Shinzo Abe, Japan se voormalige premier, is Vrydag tydens ʼn verkiesingsveldtog geskiet.

Plaaslike media berig intussen dat Abe (67) vermoedelik noodlottig gewond is tydens die voorval.

Abe is omstreeks 11:30 geskiet tydens die veldtog in die westelike streek Nara. “ʼn Man, vermoedelik die skieter, is in hegtenis geneem. Die toestand van voormalige premier Abe is tans onbekend,” het Hirokazu Matsuno, hoofsekretaris van die kabinet, aan verslaggewers gesê.

Abe was besig om ʼn toespraak te lewer toe die voorval plaasgevind het. Beeldmateriaal wat deur NHK uitgesaai is, wys hoe hy op ʼn verhoog staan voordat ʼn harde ontploffing gehoor kan word en rook in die lug sigbaar is.

Nog ʼn skoot is hierna gehoor voordat daar gesien kan word hoe ʼn man deur veiligheidsbeampte op die grond neergegooi word. Abe het ineengestort en uit ʼn wond aan sy nek gebloei. Verskeie media het berig dat hy blykbaar van agter geskiet is.

Abe, Japan se eerste minister met die langste diensrekord, het in 2006 vir een jaar gedien en weer van 2012 tot 2020 waarna hy om mediese redes uitgetree het.

Japan het van die wêreld se strengste wapenbeheerwette, en jaarlikse vuurwapensterftes in die land van 125 miljoen mense is bitter laag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Witbaard ·

As hy noodlottig gewond is, is hy mos dood of wat? Hoe kan sy toestand dan onbekend wees. Het ek die term “noodlottig gewond” dan verkeerd geleer?

Perdeby ·

‘n Vorige berig hierdie week ook. ‘n Kind is al van middel Mei vermis, maar hulle het haar lewelose liggaam in ‘n vlak graf gekry. Ek wonder of die media besef na 2 maande is die liggaam redelik ver in ontbinding stadium, en beslis nie leweloos nie.

Susan ·

Die artikel lees “vermoedelik noodlottig gewond” wat korrek is. Hulle vermoed hy is oorlede.

Pieter ·

Sulke gebeure is seldsaam. Soos met Dr Verwoerd se moord is daar ‘n groter mag daaragter wat die pad wil skoonmaak vir ‘n pop wat manipuleerbaar is om ‘n beplande verandering of sekere beleid moet implementeer wat teen die bevolking se wil is en implementeerbaar is soos Cyril se padda in die pot.

Eden ·

Die inligting is gebrekkig. Sulke aanvalle in die Westerse state is buitengewoon. Abe was ‘n goeie leier wat baie stabiliteit in Japan gebring het.

Perdeby ·

Volgens Netwerk 24 is sy toestand ernstig, maar nie dood nie.

JohanR ·

Hy het president Cyril Ramaphosa se 215 lyfwagte nodig gehad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.