Skaars wit olifant gebore

Die olifant is verlede week gebore maar nie almal stem saam dat dit ‘n wit olifant is nie. (Foto: Myanmar- militêre inligtingspan/AFP)

ʼn Skaars, wit olifant is in die weste van Mianmar gebore, ʼn gebeurtenis wat deur talle in die oorwegend Boeddhiste-land as veelbelowend beskou word.

Die kalfie is verlede week in die Rakhine-staat gebore, weeg omtrent 80 kg en staan sowat 70 cm hoog, het die Global New Light of Myanmar, ʼn plaaslike koerant, berig.

Beeldmateriaal op staatstelevisie wys hoe die kalfie sy ma na ʼn rivier volg, dan ʼn lekker was kry en hierna weglê aan sy melk.

Die koei, ʼn 33-jarige olifant genaamd Zar Han Hla, woon in ʼn bosbougebied in die Rakhine-staat. Haar kalfie het glo sewe van die agt eienskappe wat gewoonlik met dié skaars, wit olifante verbind word. Dit sluit in pêrelkleurige oë, ʼn piesangvormige rug, wit hare, ʼn kenmerkende stert, merke op die vel en groot ore.

Sosialemediagebruikers het verlede maand aanvanklik die nuus oor die geboorte van die wit olifantjie gedeel. Die kalfie het nog nie ʼn naam gekry nie.

Geskiedkundig word wit olifante in Suidoos-Asiese kultuur as uiters veelbelowend beskou en die streek se antieke heersers het soveel as moontlik van die diere versamel om hul fortuin te bevorder.

Die reusekoste om die olifante aan te hou – en dit boonop in ʼn weelderige leefstyl – het egter aanleiding gegee tot die moderne uitdrukking dat ʼn “wit olifant” ʼn nuttelose, hoewel pragtige, besitting is.

Daar is tans ses wit olifante in aanhouding in meestal die Rakhine- en Ayeyarwady-streek in Mianmar.

Die land steier nog onder verlede jaar se staatsgreep en die dodelike onderdrukking van enige opstande en die reaksie van die meeste mense oor die geboorte van die kalfie was skepties of gedemp.

“Is ek kleurblind as dit bloot bruin vir my lyk?” het een sosialemediagebruiker geskryf.

“Olifante was net in die ou dae belangrik,” het nog een laat hoor, terwyl ʼn ander gebruiker geskryf het dat die “arme kalfie tronk toe sal moet gaan”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Hy is pragtig, maar van die wit weet ek nou nie. Lyk maar vir my soos ander olifante. Hulle sien seker die wit iewers raak.

Louise ·

Hy lyk maar vir my ook doodgewoon, miskien kan iemand ons reghelp en uitwys waar die wit is, wat hom anders maak?

madels ·

Ek het gaan kyk na fotos van baba olifante, daar is nogal n groot verskil tussen gewone olifante se kleur en hierdie olifant.

Wondermaarnet ·

Te pragtig. Lyk maar net effens ligter as ‘n normale olifant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.