Skieter brand los op universiteitskampus

Studente aan Michigan State University Maandagaand ná die skietery. (Foto: BILL PUGLIANO / Getty Images via AFP)

Drie mense is dood en vyf ander gewond nadat ’n skieter Maandagaand op die kampus van die Michigan State University – ’n hoogs gerespekteerde instelling in die Amerikaanse deelstaat Michigan – losgebrand het. Die skieter het homself ure later om die lewe gebring.

Duisende studente is vroegaand aangesê om te skuil nadat skote in ’n gebou op kampus afgevuur is. Twee mense is hiér doodgeskiet voordat die skieter na die studentevakbond se gebou beweeg en nóg iemand doodgeskiet het.

Die Amerikaanse polisie het kort ná middernag bevestig dat die skieter nie ver van die kampus af nie die vuurwapen op homself gedraai het.

Chris Rozman, adjunkhoof van die universiteit se polisiemag, het aan verslaggewers gesê sommige van diegene wat gewond is, het lewensbedreigende beserings opgedoen.

Studente aan Michigan State University Maandagaand ná die skietery. (Foto: BILL PUGLIANO / Getty Images via AFP)

Rozman het voorts gesê honderde beamptes van verskeie wetstoepassingsagentskappe het ná die skietery na die gewapende man gesoek, voordat hy eindelik buite die kampus dood aangetref is. Die universiteit het gedurende die grootskaalse soektog ook ’n foto van die skieter uitgereik –  ’n swart man geklee in ’n sakkerige blou baadjie en rooi skoene.

“Dit was werklik ’n nagmerrie wat ons vanaand beleef het. Ons is verlig om nie meer ’n aktiewe bedreiging op kampus te hê nie,” het Rozman bygevoeg.

Die polisie het egter geweier om enige besonderhede rakende die slagoffers te verskaf. Dit is dus nie duidelik of hulle studente of fakulteitslede van die universiteit is nie.

Hulle wou ook nie bevestig of die skieter enige verbintenis met die universiteit het nie. Die polisie het wel gesê hulle was nie bewus van enige bedreigings voor die skietery nie.

Amptenare van Michigan State University het intussen gesê alle kampusaktiwiteite sal vir die volgende 48 uur opgeskort word. Dié universiteit het sowat 50 000 studente, van wie die meerderheid voorgraadse studente is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Daai VSA is ‘n mal plek. Jy kan verseker wees as jy iets dom doen in kar daar, sal die ander bestuurder gewapen wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.