Skip vaar om wêreld sonder enige fossielbrandstof

‘n Lugfoto van die Energy Observer. (Foto: Marco BELLO / AFP)

ʼn Skip wat deur hernubare energie aangedryf word – soveel só dat waterstof aan boord vervaardig word – sal binnekort op die laaste been van sy vaart om die wêreld vertrek.

Die 30 m lange katamaran, genaamd Energy Observer, is tans nog in die suidoostelike Amerikaanse deelstaat Florida vasgemeer.

Die Energy Observer het tot dusver 63 040 seemyl afgelê sonder om enige fossielbrandstof te gebruik sedert die aanvang van die vaart in 2017. Die skip maak gebruik van sonpanele en gevorderde seile genaamd “oceanwings” as kragbron in verskeie klimate langs die kus van Afrika, Asië en Antarktika.

Sowat 40% van die vaartuig se energie kom van wind, 40% van sonkrag en 20% van waterstof.

Die skip se outomatiese 12 m “vlerke” verhoog die skip se spoed en verminder energieverbruik.

Die Energy Observer. (Foto: X)

Die Energy Observer gaan nog in Washington, New York en Boston draai voordat dit eindelik terug na Frankryk vaar.

Intussen word daar gewerk aan ʼn Energy Observer 2, ʼn vragskip van byna 120 m met ʼn kapasiteit om 5 000 metrieke ton te vervoer. Die skip sal deur vloeibare waterstof aangedryf word.

“Ons het baie geleer op hierdie reis,” het kaptein Marin Jarry van die Energy Observer vandeesweek aan AFP in Fort Lauderdale, net noord van Miami, gesê.

Jarry beoog om ook dít wat hy aan boord van die Energy Observer geleer het deur middel van seminare, artikels en video’s met ander te deel en in die proses die skeepvaart- en maritieme sektor te beïnvloed, veral aangesien die skip se oseaanvlerke reeds in kommersiële skeepvaart gebruik is.

Die vlerke is gebruik op die vragskip Canopee, wat ontwerp is om onderdele van die Ariane 6-vuurpyl van Europa na ʼn lanseringsentrum in Frans-Guyana aan die noordoostelike punt van Suid-Amerika te vervoer.

Maritieme vervoer genereer tans ongeveer 3% van kweekhuisgasse wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lesly ·

Fantasties……hey wag ‘n bietjie!! Het ou Jan nie in 1652 sonder enige fossiel branstof in die Kaap aangekom nie?

Keelvol ·

Nou nie juis n groot prestasie nie. Is al menigte male voorheen gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.