Soektog na oorlewendes ná brug ineenstort

(Foto: ROBERTO SCHMIDT / AFP)

Daar word na minstens ses mense gesoek wat vermoedelik in die water beland het toe die Francis Scott Key-brug Dinsdag in die vroeë oggendure (Amerikaanse tyd) in die Patapsco-rivier gestort het nadat ʼn vragskip daarteen gebots het.

Amptenare sê die temperatuur van die water was ongeveer 9 ˚°C toe die brug meegegee het. Dit is lente in die VSA, maar steeds koud en die temperatuur bemoeilik in hierdie stadium reddingspanne se soektog, berig BBC.

Volgens Paul Wiedefeld, sekretaris van vervoer in die deelstaat Maryland, het verskeie kontrakteurs ten tyde van die ineenstorting aan die brug gewerk.

Wiedefeld sê daar is tans geen bevestigde sterftes nie. Hy sê ook dit is te vroeg in die ondersoek om  presies te weet wat die ineenstorting veroorsaak het.

James Wallace, die plaaslike brandweerhoof, het teen sonopkoms gesê verskeie mense het in die water beland. Twee van hulle is in daardie stadium reeds uit die water gered. Een van die slagoffers is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem, terwyl die ander behandeling van die hand gewys het.

(Foto: ROBERTO SCHMIDT / AFP)

Wallace het egter aangedui dat die reddingsdienste in daardie stadium nog ʼn groot oppervlakte, waaronder die rivierbodem en die dek van die vragskip, gehad het om vir enige moontlike oorlewendes te fynkam.

Wallace het ook gesê daar is “absoluut geen aanduiding dat dit terrorisme is nie”.

Data toon dat die Dali-vragskip die hawe van Baltimore om 00:44 Amerikaanse tyd verlaat het voordat dit van koers gedwaal en ʼn brugkolom om 01:30 getref het.

Maroela Media het vroeër berig die vaartuig is 300 m lank en was ten tyde van die voorval op pad na Colombo in Sri Lanka.

Die volle lengte van die brug het kort daarna meegegee en in die water gestort.

Verkeer op die I-695-hoofweg, waarvan die brug deel vorm, word sedertdien herlei terwyl reddingspogings voortduur.

(Foto: ROBERTO SCHMIDT / AFP)

Vaartuigverkeer in en uit die hawe van Baltimore – met die uitsondering van vragmotors – is opgeskort.

AFP berig die Francis Scott Key-brug, vernoem na die digter wat die liriek van die Amerikaanse volkslied geskryf het, het voor Dinsdag se ineenstorting gemiddeld 31 000 passasiers per dag oor een van die besigste hawens in die Verenigde State vervoer.

Baltimore is die negende besigste groot Amerikaanse hawe wat buitelandse vraghantering en buitelandse vragwaarde betref. Die hawe verwerk die grootste volume motors en ligte vragmotors in die VSA, asook die grootste hoeveelhede ingevoerde suiker.

Daar word nou gevrees dat die ineenstorting aansienlike ekonomiese skade gaan veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.