Video: Amerikaanse brug stort ineen ná skip daarteen bots

(Foto: Skermskoot)

ʼn Belangrike brug in die Amerikaanse stad Baltimore in die deelstaat Maryland het enkele ure gelede ineengestort nadat ʼn vragskip daarteen gebots het.

BBC berig die Francis Scott Key-brug van 3 km het Dinsdag in die vroeë oggendure (Amerikaanse tyd) in die Patapsco-rivier gestort kort nadat die Dali, ʼn vragskip, daarteen gebots het.

Die vaartuig is 300 m lank en was ten tyde van die voorval op pad na Colombo in Sri Lanka toe dit omstreeks 01:30 (Amerikaanse tyd) teen die brug gebots het.

Die volle lengte van die brug het kort daarna meegegee en in die water beland het.

Voorlopige inligting dui daarop dat 20 mense en verskeie voertuie ook in die water beland het.

Reddingspogings is tans onderweg.

Brandon M Scott, burgemeester van Baltimore, en Johnny Olszewski Jr., uitvoerende hoof van Baltimore County, het albei gesê hulle is bewus van die voorval.

“Bid asseblief vir diegene wat geraak word,” het Olszewski op X gesê.

Die Francis Scott Key-brug is deel van die 695-snelweg rondom Baltimore.

Hou Maroela Media dop vir meer oor die voorval.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Faraway ·

Dis verskriklik – 1998 is baie naby familielede van my oorlede oor brug wat in Bosbokrand ineengestort het

Misky ·

Die skip is nie in die video nie, so moes vroeër in die brug gevaar het. Hoekom sou hulle nie toegang weier en eers seker maak alles is nog stabiel nie? Baie tragies

Renier ·

Ek neem aan dit is n onmenslike gevoel as jy in n kar oor die brug ry ,en dit gebeur.

Johan D ·

Misky: Die skip is wel sigbaar aan die linkerkant. Die brug moes kort na die botsing inern gestort het wat dit onmoontlik gemaak het vir die owerhede om verkeer te stop en die brug oor die 3 km afstand skoon te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.