‘Soos iets uit oorlogsone’: Toeriste vlug van vlamme in Hawaii

Die veldbrande het mense Dinsdag onkant betrap. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Toeriste wat vandeesweek van dodelike veldbrande in Hawaii moes vlug, sê hulle was dae lank sonder elektrisiteit en kos vasgekeer terwyl brande om hulle gewoed het.

Sommige van die toeriste wat kon vlug, sê egter hulle is dankbaar dat hulle kon wegkom uit ʼn plek wat “soos ʼn oorlogsone lyk”.

Minstens 53 mense is dood sedert brande Dinsdag deur die historiese dorp Lahaina op die Maui-eiland beweeg het.

Honderde geboue op die eiland is verwoes en duisende plaaslike inwoners is dakloos.

Die brande is na alle waarskynlikheid een van die dodelikste rampe in die geskiedenis van dié Amerikaanse deelstaat.

Volgens die owerhede is die bosbrande aangevuur deur sterk wind weens ʼn orkaan in die streek. Die vlamme het so vinnig beweeg dat dit talle mense onkant betrap het en sommige selfs genoop was om in die see te spring in ʼn desperate poging om weg te kom.

Toeriste is deur die owerhede versoek om die eiland te verlaat sodat alle hulpbronne beskikbaar gestel kan word aan ander inwoners wat in nood verkeer.

Lorraina Peterson (46) was op wittebrood op die paradys-eiland toe die veldbrand haar en honderde ander in hul hotel vasgekeer het.

“Ons was drie dae lank in ons kamer vasgekeer,” het sy aan AFP gesê terwyl sy vir ʼn vlug van die lughawe in Kahului gewag het.

“Dit was angswekkend, want daar was geen krag nie. Ons kon nie ons selfone gebruik nie. Ons kon nie familie bel nie.”

Peterson, wat in Kalifornië woon, sê die hotel waar hulle vasgekeer was, het ʼn kragopwekker gebruik, maar dit het later ook die gees gegee.

“Die hysbak het ophou werk en sommige mense het daarin vasgesit.”

Gaste is uiteindelik na die lughawe geneem toe die hotel se kos opgeraak het. Toeriste is in hul honderde met skoolbusse na die lughawe aangery, waar vrywilligers vir hulle toebroodjies en water uitgedeel het.

Peterson het gesê sy is nie seker wanneer sy en haar man huis toe kan gaan nie, aangesien hulle eers Saterdag ʼn plek op ʼn vlug kon kry. Haar man is een van talle toeriste wat in ʼn ellelang tou staan om hul vliegkaartjies te probeer vervroeg.

“Ek weet nie eens of ons ʼn hotelkamer sal kry en of ons op die vloer sal moet slaap nie.”

Brandon Wilson van Kanada het saam met sy vrou na Hawaii gereis om hul 25ste huweliksherdenking te vier. Slegs twee dae nadat hulle by hul huurhuis aangekom het, het die brande die kragtoevoer onderbreek.

Teen Donderdagoggend het hulle kos begin min raak en met geen manier om nog kruideniersware te koop nie, het hulle besluit om eerder huis toe te gaan.

“Terwyl ons deur Lahaina gery het, het dit soos ʼn oorlogsone gelyk,” het Wilson aan AFP gesê.

“Dit lyk regtig asof die hele dorp gebombardeer is. Dit is heeltemal verwoes.”

Wilson sê dit was moeilik om die paaie te navigeer en hy was deurlopend bekommerd oor al die plaaslike inwoners wat hulle lewensbestaan kwyt is.

“Jy voel so sleg vir mense. Hulle het hul huise, hul lewens, hul inkomste ​​verloor.”

(Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Ek bekommer myself as jy dink om jou hande te was is n “ritueel”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.