Spanning oor Russiese diplomaat wat plak op Aus-parlement se voorstoep

Nadat hy die hut vroeër verlaat het om ʼn sigaret te rook en ʼn kruideniersaflewering te ontvang, het die man die res van die dag hoofsaaklik in die hut gebly. (Foto: Yoann Cambefort/AFP)

ʼn Geheimsinnige Russiese diplomaat met ʼn voorliefde vir slenterdrag en sigarette het Vrydag tot ʼn nasionale veiligheidsituasie tussen Canberra en die Kremlin gelei en ʼn verdere stok in die wiele gesteek van Australië se pogings om bouwerk op ʼn perseel in die hart van die hoofstad te stop.

Australië het Rusland verhoed om ʼn nuwe ambassade op ʼn stuk grond net ʼn klipgooi van die Australiese parlementsgebou op te rig nadat intelligensie-agentskappe gewaarsku het dat dit gebruik kan word as basis om op parlementslede te spioeneer.

Rusland het Vrydag met regstappe begin in ʼn poging om die bouwerk weer aan die gang te sit en het terselfdertyd ʼn ongewone diplomatieke taktiek ingespan: Hy het ʼn bebrilde amptenaar ontplooi om in ʼn vervalle tydelike hut op die bouterrein te plak.

Die middeljarige man, geklee in ʼn sweetpakbroek en pofbaadjie, is ʼn tameletjie vir Australiese amptenare wat lugtig is om ʼn Russiese afgevaardigde met geweld iewers uit te skop.

Regeringsbronne sê die man het diplomatieke beskerming, hoewel dit nie dadelik gelyk het of hy op enige van Rusland se openbare lys van verteenwoordigers in Australië verskyn nie.

Nadat hy die hut vroeër verlaat het om ʼn sigaret te rook en ʼn kruideniersaflewering te ontvang, het die man die res van die dag hoofsaaklik in die hut gebly terwyl tientalle Australiese polisiebeamptes op ʼn afstand ʼn oog gehou het.

Australiese eerste minister Anthony Albanese het die diplomaat Vrydag beskryf as ʼn “een of ander ou wat in die kou op ʼn graspol in Canberra staan”.

Die “ou”, het Albanese volgehou, is “nie ʼn bedreiging vir ons nasionale veiligheid nie”.

‘Russofobiese histerie’

Rusland se bestaande ambassade in Canberra. (Argieffoto: Facebook)

Rusland het die grond in 2008 van die Australiese regering bekom en in 2011 het die land toestemming gekry om sy nuwe ambassade daar te bou.

Verlede week het die Australiese regering egter bekend gemaak dat hy hierdie ooreenkoms nou opskeur.

Die Australiese parlement het wetgewing goedgekeur wat spesifiek daarop gemik is om te verhoed dat ʼn Russiese ambassade op die grond gebou word. Dit is sowat 400 meter van die parlementsgebou geleë.

“Die regering het baie duidelik veiligheidsaanbevelings gekry oor die risiko van ʼn Russiese teenwoordigheid só naby aan die parlementsgebou,” het Albanese gesê.

“Ons spring om te verseker dat die huurooreenkoms nie ʼn formele diplomatieke teenwoordigheid word nie.”

Die nuwe wetgewing verhoed Rusland nie om ʼn diplomatieke teenwoordigheid in Australië te handhaaf nie – dit keer die land net om ʼn gebou so naby aan die parlement op te rig.

ʼn Woordvoerder van die Australiese regering sê Rusland vra ʼn bevel teen die besluit en voer in die hof aan die stap was ongrondwetlik.

“Die feit dat Rusland die geldigheid van die wetgewing betwis, is nie onverwags nie,” het hy aan AFP gesê.

“Dit is deel van die Russiese spelreëls.”

Verlede week het Kremlin-woordvoerder Dmitry Peskov gesê die Australiërs se optrede is ʼn demonstrasie van “Russofobiese histerie”.

Rusland se departement van buitelandse sake het vroeër vandeesweek ʼn lys van 48 Australiërs bekend gemaak wat die land verbied om ʼn “anti-Russiese agenda” te verkondig.

Die lys sluit die name van verslaggewers, staatsamptenare en hoofde van plaaslike verdedigingsmaatskappye in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Samuel ·

Hulle nie hand om die blaas met Rusland soos die geliefde ANC nie. Bah!!

andre ·

Een Rus op sy eie grond ontstel miljoene Australiers en dit is wereldnuus . Wie is die beste skaakspeler in hierdie geval

De Bok ·

Dit is nie Russofobiese histerie nie. Daar is ‘n oorlog tussen die Rusland en “die Weste” waarby Australie ingelsuit word.

Andrew ·

Ai. So asof Turkeye nie saam Rusland speel nie, en hulle ambassade is nog nader.

Johan ·

Dit is maar net nie n lekker land nie. Kan nie verstaan dat ons mense daarheen verhuis nie….regtigwaar.

Samuel ·

Het jy al ondersoek ingestel oor Australië en self daar ‘n draai gaan maak? Jaloers omdat jy nie soontoe kan gaan nie?

Hendrik ·

Nouja, as dit nie anders kan nie, bou n parlement op die anderkant van die land..
Stem saam met hd Australiese besluit. Die politiekeklimaat het sederd 2008—–11 drasties verander.

Pieter J ·

Ek sal graag wil weet waar in die wêreld het die Russe al iets opbouend verrig. Orals in die wêreld veroorsaak hulle net konflik . Ek kan nêrens iets positief vind wat hulle gedoen het om iemand te help nie. Miskien is daar iemand wat vir my so iets kan uitwys.

Treurwilger ·

Pieter, jy kan daardie vraag oor die meeste lande vra.

My mening: as alle ambassades van alle lande oornag verdwyn, sal die wêreld dit nie eers mis nie.
Diplomasie het saam met “common sense” gesneuwel.

Anel ·

Dis nogal ironies dat sekere mense van sekere lande na ander lande gaan en verwag dat die gasheerland na hulle pype dans. Dat hulle die gasheer land wil voirskryf. Maar gaan jy nou na hulle land, dan is jy ‘n misdadiger as jy doen wat hulle doen in die ander land. Maar nou ja, het in elke geval nie veel tyd vir daardie eiland bewoners nie. Hulle voorvaders was nou regtig nie iets om oor huistoe te skryf nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.