Spesiale huldeblyk vir haai-slagoffer

Simon Nellist (Foto: @ShaneMeneer/Twitter)

Die Britse familie van ʼn Afghaanse oorlogsveteraan wat deur ʼn grootwithaai naby Sydney aangeval is, het Saterdag ʼn spesiale huldeblyk gelewer vir sy “seldsame gawe om met mense te werk”.

Simon Nellist (35), ʼn duikinstruktuur, het ses jaar gelede van Cornwall in die suidweste van Engeland na Australië geëmigreer. Hy het twee toere in Afghanistan onderneem saam met die Britse Lugmag, aldus plaaslike media.

Omstanders het Woensdag hulpeloos van die rotse gekyk hoe die haai die swemmer by Little Bay Beach aanval. Dit is die eerste haaiaanval in die stad sedert 1963.

Maroela Media het vroeër berig Nellist het “katastrofiese beserings” gedurende die aanval by Little Bay-strand – ’n “rustige strand” naby Malabar – opgedoen. ’n Reddingshelikopter en vier ambulanse is ná die voorval tevergeefs na die strand ontplooi en daar was niks wat paramedici vir hom kon doen nie. ’n Grafiese video van die liggaam in die water getuig hiervan.

Simon Nellist (Foto: Twitter)

Nellist het op trou gestaan en was “ʼn sagmoedige, goedhartige en wonderlike mens”, het sy familie in Engeland in ʼn verklaring aan die BBC gesê en bygevoeg hulle “gaan hom verskriklik mis”.

“Simon was snaaks, barmhartig en het altyd tyd gemaak vir mense. Hy het ʼn seldsame gawe gehad om sommer dadelik met ander mense te kan gesels. Mense het hom vertrou en hom respekteer,” het hulle bygevoeg.

Nellist se tannie Jacqui Seager (62) het gesê hy was ʼn diereliefhebber en sou nie wou hê dat die haai van kant gemaak moet word as dit gevang sou word nie.

“Simon was altyd lief vir die see. Hy was altyd naby daaraan. Hy was mal oor die natuur en die wêreld,” het sy gesê, aldus die Cornwall Live-nuuswebwerf.

“Sy ma wou weet hoe dit moontlik is dat hy van die voorste linies (in Afghanistan) ongedeerd kon terugkeer, net om na Australië te gaan, te gaan swem en te sterf.”

Strande in Sydney is gesluit vir swemmers en branderplankryers ná die aanval, maar het Vrydag weer oopgemaak. Soektogte om die haai, vermoedelik minstens 3 meter lank, op te spoor, was tot dusver tevergeefs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.