Staan Trump ʼn kans in 2024?

Donald Trump (Foto: ALON SKUY / AFP)

Indien die Republikeinse voorverkiesing vandag sou plaasvind, sou oudpres. Donald Trump waarskynlik weer dié party se kandidaat vir die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2024 wees.

Die voorverkiesings vind egter eers in die eerste helfte van 2024 plaas “en teen die tempo wat Trump tans steun verloor” sal hy waarskynlik nié die Republikeine se kandidaat wees nie, sê Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.

Peilings beaam dit. Luidens ʼn peiling deur USA Today en die Suffolk-universiteit in Boston, Massachusetts, het die oudpresident se steun van 75% tot onder 50% gedaal en Kleynhans vermoed dat sy steun in die komende maande nog verder gaan daal namate ander sterk kandidate na vore tree.

Die groot vraag is egter nou wie die Republikeinse party se presidentskandidaat gaan wees indien dit nié Trump is nie.

Kleynhans glo Ron DeSantis, die huidige goewerneur van die deelstaat Florida, is in dié stadium die enigste kandidaat wat Trump in 2024 moontlik kan gas gee.

DeSantis is in November vanjaar met 60% van die stemme tot goewerneur van Florida herkies. Dit is die grootste oorwinning vir ʼn goewerneur van dié deelstaat in byna 50 jaar. Selfs Demokrate in Florida het vir hom gestem.

Ron DeSantis (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Kleynhans wys daarop dat baie dinge verander het sedert Trump in 2016 tot president verkies en in 2020 deur Biden onttroon is. Die Republikeinse party is gefrustreerd met Trump wat vasgehaak het by die 2020 verkiesingsuitslag en die feit dat baie kandidate wat deur Trump ondersteun word,  tydens die middeltermynverkiesing verloor het.

“Daar is ʼn gevoel onder Republikeine dat die party moet aanbeweeg. Daar is ʼn behoefte daaraan dat die Republikeinse Party vorentoe beweeg en nuwe, opwindende kandidate kry,” sê Kleynhans.

“Die meerderheid Republikeine is steeds positief oor Trump se beleid, maar hoop op ʼn nuwe kandidaat met minder bagasie en meer geloofwaardigheid.”

En dit is juis wat DeSantis na die tafel bring, meen Kleynhans.

“Hy het geen verlede vol geraamtes soos Trump nie. Sy aanslag is ook vir mense baie aanvaarbaar. Hy hou hom nie besig met persoonlike aanvalle soos Trump nie.”

Peilings toon ook dat DeSantis se steun skerp toegeneem het.

Kleynhans sê voorts dat sou die Republikeinse Party tog besluit om Trump as sy presidentskandidaat te verkies, die kans skraal is dat hy die presidentsverkiesing sal wen.

“Trump is in dié stadium selfs meer ongewild as pres. Joe Biden, en Biden is ’n baie ongewilde president.

Donald Trump (Foto: ALON SKUY / AFP)

“Ons moet ook altyd onthou dat Trump in 2016 teen Hilary Clinton, ʼn báie ongewilde Demokraat, gewen het. Clinton het ʼn swak presidentsveldtog gevoer. Daar was ook ʼn baie lae stempersentasie in 2016 – miljoene lede van die Demokratiese Party het nie destyds gaan stem nie omdat hulle nie gedink het Trump kan wen nie.

“Die Republikeine het wel gaan stem, wat aan Trump daardie verrassingsoorwinning gegee het.”

Dit sal egter nie weer gebeur nie, sê Kleynhans.

“Ons het dit in 2020 gesien. Die Demokrate het besef hulle moet hul kiesers by die stembus kry.”

Dit is nie in dié stadium bekend of Biden homself volgende jaar as die Demokrate se presidentskandidaat verkiesbaar gaan stel nie. lndien hy wel besluit om weer as president te staan, sal hy die oudste nog wees om dit te doen.

Biden sal 82 jaar oud wees wanneer die presidentsverkiesing in November 2024 plaasvind.

Moenie Trump onderskat nie

Kleynhans sê daar moet wel in gedagte gehou word dat miljoene gewone Republikeine op die Amerikaanse platteland steeds vir Trump ondersteun omdat hy uiting gee aan hul frustrasies.

“Die Amerikaanse regering stuur nie geld na die platteland nie en Trump verteenwoordig daardie Amerikaners se geweldige frustrasie.

“Baie van hierdie mense is baie konserwatief. Hulle is gefrustreerd met die regering in Washington. Hulle voel die regering is uit voeling met die gewone Amerikaners. Dis hoekom hulle Trump ondersteun.

“Die groot vraag is of ʼn alternatiewe kandidaat soos DeSantis tot daardie mense kan spreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.