‘Staat van oorlog’ in Israel ná Hamas aanvalle loods

Vuurpyle is op 7 Oktober 2023 van Gaza in die rigting van Israel gevuur (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Palestynse militante het ʼn “oorlog” teen Israel begin waar hulle deur die lug, see en land van die uit die Gaza-strook aangeval het, het Israeliese beamptes gesê.

Dit is ʼn groot eskalasie in die konflik tussen Israel en Palestina.

Eerste minister Benjamin Natanyahu het gesê “ons is in ʼn oorlog” en het erge weerwraak beloof ná hy opdrag gegee het vir die grootskaalse mobilisering van Israeliese weermagreserwes. “Die vyand sal ʼn ongekende prys betaal.”

Geweld tussen Israel en die Palestyne het sedert vroeg verlede jaar begin toeneem, met ʼn getal sterftes in die besette Wesoewer wat in jare nie gesien is nie.

“Ons het besluit om ʼn einde te bring aan al die misdade van die besetting (Israel),” het die Ezzedine al-Qassam-brigade, die gewapende vleuel van Hamas wat die Gaza-strook beheer, gesê. “Hul tyd vir verwoesting sonder aanspreeklikheid is verby. Ons kondig Operasie Al-Aqsa Flood aan en ons het, in die eerste aanval van 20 minute, meer as 5 000 vuurpyle afgevuur.”

Israel se weermag het gesê sy magte veg teen Palestynse militante op die grond in verskeie liggings naby die strook. Die operasie is “Swaarde van Yster” gedoop.

Weermagwoordvoerder Richard Hecht het gesê die militante het ʼn gekombineerde klopjag uitgevoer – deur middel van valskermspringers, deur die see en oor die grond.

Brandende motors ná ʼn vuurpylaanval uit die Gaza-strook in Ashkelon in die suide van Israel (7 Oktober 2023) (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Minstens 22 mense is reeds in Israel doodgeskiet, het die Magen David Adom-nooddienste in ʼn verklaring gesê. Hulle het reeds honderde slagoffers behandel.

Hamas het intussen ʼn video gedeel van drie mans wat deur sy vegters gyselaar gehou word.

Josep Borrell, hoof van buitelandse beleid by die Europese Unie, het die besluit deur Hamas om burgers gyselaar te hou, veroordeel. Volgens Borrell is dit ʼn oortreding van internasionale wetgewing.

“Die nuus dat siviele burgers gyselaar gehou word is verskriklik. Dit is teen internasionale wetgewing. Die persone moet dadelik vrygelaat word,” het hy op X (Twitter) gesê.

Rook borrel bo Gaza op 7 Oktober 2023 tydens die lugaanval (Foto: Mahmud Hams/AFP)

ʼn Militante inval van Gaza, ʼn verarmde enklawe met sowat 2,3 miljoen inwoners, is seldsaam sedert Hamas in 2007 beheer oorgeneem het. Dit het tot Israel se verlammende blokkade gelei. Gaza is afgesper van Israel deur ʼn weermaggrens.

Minstens ses voertuie het langs residensiële geboue in Ashkelon, sowat 10 km noord van Gaza, staan en brand ná die vuurpylaanval uit Gaza.

Die aanval het op die Sabbat en tydens ʼn Joodse vakansie plaasgevind.

Netanyahu het in ʼn verklaring gesê Hamas het “ʼn moordende verrassingsaanval geloods teen Israel en sy mense”.

Genl.maj. Ghasan Alyan van Israel het gewaarsku Hamas het “die poorte van die hel oopgemaak” en “sal boet vir hul dade”.

AFP-verslaggewers het gesê Israel se weermag het met lugaanvalle op Gaza begin ná die vuurpylaanval uit die gebied.

“Dosyne vegvliegtuie van die Israeliese weermag val tans ʼn rits teikens van Hamas in die Gaza-strook aan,” het die weermag gesê.

AFP-verslaggewers in Gaza het gesê die vuurpyle is omstreeks 06:30 (0330 GMT) afgevuur.

Honderde Gaziete vlug

Die Israeliese polisie het intussen padblokkades opgestel om motoriste na te gaan op die pad tussen Tel Aviv en Jerusalem, het ʼn AFP-joernalis gesê.

Honderde inwoners het uit hul huise in Gaza gevlug om van die grens met Israel weg te kom, hoofsaaklik in die noordoostelike deel van die gebied, het ʼn AFP-korrespondent gesê. Die mans, vroue en kinders het met komberse en kos gevlug.

In die handelsentrum van Tel Aviv het inwoners op ʼn bus geklim om skuiling in ʼn hotel te soek.

ʼn AFP-fotograaf het ʼn groot gat in ʼn gebou gesien met inwoners wat buite saamdrom.

Sommige Palestynse inwoners in die ooste van Jerusalem het gejuig en hul motortoeters geblaas terwyl die sirenes geloei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.