Staatsgreep in Niger

Ondersteuners van die Nigerse verdedigingsmagte en veiligheidsmagte val die hoofkantoor van pres. Mohamed Bazoum se PNDS-party aan (27 Julie 2023) Foto: – / AFP)

Mohamed Bazoum, president van Niger, is deur elite soldate aangekeer. Hulle voer aan hulle het nou die mag in die hand in dié onstabiele Wes-Afrikaland.

Westelike bondgenote en internasionale organisasies ondersteun Bazoum, maar die hoof van Niger se weermag het Donderdag sy steun toegesê aan diegene wat die staatsgreep uitvoer.

Die staatsgreep-poging

ʼn Groep soldate, meeste van hulle onbekend aan die publiek, het op nasionale televisie aangevoer dat hulle Niger se regering omvergegooi het ná ʼn skynbare staatsgreep.

Bazoum is in 2021 tydens ʼn demokratiese verkiesing as president aangewys.

Kol-maj. Amadou Abdramane het gesê “alle instansies” in die land word opgeskort. Die grense word gesluit en ʼn aandklokreël word ingestel.

“Dit volg ná die voortgesette agteruitgang van die veiligheidsituasie, swak ekonomiese en maatskaplike regering,” het hy gesê.

Die aankondiging kom net ʼn dag ná spanning en verwarring Woensdag te midde van dit wat die regering beskryf het as ʼn “drifbui” deur elemente van die presidensiële wag.

ʼn Skare het buite die presidensiële paleis bymekaargekom om teen die oorname te betoog. Hulle is verjaag.

Honderde mense, van wie sommige Russiese vlae rondgeswaai het, het Donderdag in Niamey hul ondersteuning gewys vir die staatsgreepleiers, het AFP-verslaggewers gesien.

Jongmense het verskeie kilometers gereis na die hoofkantoor van Bazoum se PNDS-party en dit aangeval. Sommige voertuie is aan die brand gesteek.

Die president

Bazoum het, ná hy met die Amerikaanse minister van buitelandse sake Antony Blinken gesels het, op Twitter (X) gesê dat die “vordering in demokrasie waarvoor daar hard gewerk is” veilig gehou sal word.

Hassoumi Massoudou, Niger se minister van buitelandse sake, het gesê dit gaan goed met Bazoum en dat die land se “regmatige mag” uitgevoer word deur die verkose president.

Hy doen ʼn beroep op al die “weerspannige soldate om terug te keer in gelid”.

Die hoof van Niger se gewapende magte het egter Donderdag gesê hy het ʼn verklaring deur diegene, wat die staatsgreep beplan het, bekragtig.

“Die militêre bevel van die Nigerse gewapende magte het besluit om die verklaring deur die verdediging en veiligheidsmagte te ondersteun, om ʼn dodelike konfrontasie tussen verskeie magte te vermy,” lui ʼn verklaring wat genl. Abdou Sidikou Issa onderteken het.

Seldsame Westerse bondgenoot in Sahel

Gebeure in Niger is kommerwekkend vir Westerse regerings, en veral Frankryk, wat moontlik een van sy laaste oorblywende bondgenote in die Sahel kan verloor, ʼn onstuimige gebied wat geteister word deur jihad-aanvalle wat met die Islamitiese Staat en al-Kaïda verbind word.

Frankryk het steeds 1 500 soldate in Niger – ʼn land met 26 miljoen burgers – ná hy sy anti-jihad-Barkhane-operasie beëindig het en Mali onder druk van die regering laat vaar het.

“ʼn Suksesvolle staatsgreep in Niger kan ʼn verskriklike knou wees vir die streek,” het Michael Shurkin van die Atlantiese Raad se dinkskrum, Woensdag gesê. “In objektiewe terme het Bazoum, wat demokraties verkies is, baie dinge reg gedoen om sy land te red. Hy was die ideale veiligheidsvennoot vir die Weste vir daardie rede.”

Hy het ook gewaarsku dat enige skuif wat die moontlike nuwe base van Niger kan doen om nader aan Rusland te staan, op die vooraand van ʼn Rusland-Afrika-beraad onder leiding van president Wladimir Poetin.

“Niger kan nie bekostig om sy Westerse vennote af te skrik nie. En as hulle Rusland innooi, kan ons daarvan seker wees dat dit Niger se probleme sal vererger,” het Shurkin op LinkedIn gesê.

Die buurland Benin se president Patrice Talon word in Niamey verwag vir bemiddelingspogings, het die hoof van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (Ecowas) gesê.

SA veroordeel staatsgreep

Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het intussen gesê die Suid-Afrikaanse regering veroordeel die staatsgreep.

ʼn Beroep word op die militêre instelling gedoen om die veiligheid van pres. Bazoum te verseker.

Die regering versoek ook dat die militêre magte na hul barakke sal terugkeer om die herstel van die demokratiese reg so vinnig as moontlik te verseker.

“Suid-Afrika ondersteun ten volle die posisie van Ecowas, die Afrika-Unie en die Verenigde Nasie in hul versoek dat alle partye dringend sal terugkeer na grondwetlike beheer.”

Die land moedig ook die internasionale gemeenskap aan om steeds die mense van Niger te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Charles ·

Een groot joke. n Nuwe groep wat “mag” gaan proe en deel hê in die “rykdom”.

Karel Kobus Kruger ·

‘n Koning sonder ‘n weermag is slegs ‘n outjie met ‘n snaakse hoed.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mog ‘n job vir Zuma om vrede te bewerkstellig.

Ryan ·

Afrika demokrasie in werking. Die ou met die grootste geweer is in beheer.

Hendrik ·

Suid-Afrika loop dieselfde gevaar as die ANC volgende jaar se verkiesing verloor.

Pieter ·

Ha ha, SA , wie is julle om te se wat moet gebuer? Ons het nie eers n weermag nie. As Zimbabwe besluit hulle val SA binne, sal ons hulle nie kan keer nie.

Marthinus W ·

Frederick Forsyth skryf in een van sy boeke dat Afrika-demokrasie soos volg werk: die eerste generaal wat in die oggend by die uitsaaistasie kom, verklaar homself president vir die dag. [Hy het die Biafra-krisis in Nigerie as joernalis gedek, en ken sy storie].

Op n foto van die “nuwe bewind” is die nuwe prez in n blou uniform wat plastiekerig lyk, en wat soos n lid van Village People lyk. Die ander agter hom lyk nie vreeslik gemaklik nie; baie kruiperig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.