Taliban verhoed vroue om in Dubai te gaan studeer

Argieffoto (Foto: hartono subagio / Pixabay)

Dosyne Afghaanse vroue wat beurse ontvang het om in die Verenigde Arabiese Emirate te gaan studeer, word verhoed om Afghanistan te verlaat, het een van die vroue aan AFP gesê. Dit volg ná ʼn versoek om hulp van hul Emiratiese borg.

Laila (22) was een van sowat 30 vroue wat ʼn beurs ontvang het om in die VAE te gaan studeer deur die bekende Emiratiese sakeman Khalaf Ahmad Al Habtoor. Hulle is egter verlede week Woensdag verhoed om op hul vlugte vanaf Kaboel te vertrek.

Vroue en meisies in Afghanistan word verhoed om hoërskool of universiteit by te woon ná Taliban-owerhede in Augustus 2021 beheer oorgeneem het van die land.

“Dit was ons enigste hoop om oorsee te gaan en ons opvoeding voort te sit,” het Laila, wie se naam gewysig is uit vrees vir weerwraak, gesê. “Dit was ʼn ongelooflike geleentheid vir ons, maar, soos alles anders, is hierdie geleentheid van ons weggeneem.”

Sy sou regte in Dubai gaan studeer het ná sy onder die Taliban-verbod gedwing is om haar joernalistieke studies te laat vaar.

Laila sê sy en die ander vroue het dit tot by die vertreksaal gemaak, maar hulle is op die laaste oomblik voorgekeer deur mans in lughawe-uniforms. Die mans het gesê hulle het ʼn bevel om niemand met studentevisums toe te laat om die land te verlaat nie.

Taliban-beamptes het nie gereageer op AFP se versoek om kommentaar of bevestiging nie.

Al Habtoor, die stigtersvoorsitter van die Al Habtoor-groep, het die Afghaanse owerhede in ʼn plasing op X (voorheen Twitter) veroordeel. Hy het hulle gemaan om die vroue toe te laat om hul land te verlaat.

Hy het gesê sowat 100 vroue het beurse ontvang in samewerking met die Universiteit van Dubai en dat die Al Habtoor-groep se personeel maande lank gewerk het om seker te maak alles is in orde.

“Die owerhede in Afghanistan, sonder enige regverdiging, het hulle vertrek verhoed. Hulle vryheid is onregverdig beperk. Ek versoek alle betrokke partye om vinnig in te gryp om hierdie sukkelende studente te red,” het Al Habtoor gesê. “Hulle het die reg om te studeer. Hulle het die reg om enigiets te doen wat mans mag doen en daar moet geen uitsondering wees nie.”

Heather Barr, adjunkdirekteur van vroueregte by Human Rights Watch, het gesê die voorval is “baie kommerwekkend”. “Hulle word gevange gehou en ander word verhoed om hulle te help om te studeer.”

Talibanse owerhede pas Islam streng toe sedert hulle die land twee jaar gelede oorgeneem het. Vroue gaan die swaarste gebuk onder die wetgewing wat deur die Verenigde Nasies beskryf word as “geslagsapartheid”.

Die Taliban-regering verhoed vroue ook om parke, feeste en gimnasiums by te woon. Hulle word ook gedwing om hulself in die publiek te bedek. Vroue word verhoed om vir VN-agentskappe of nieregeringsorganisasies te werk en duisende is uit hul staatsposte afgedank of word betaal om by die huis te bly.

Laila het gesê hulle hoop dat hulle steeds toegelaat sal word om na Dubai te vertrek. Sy maan die internasionale gemeenskap om hulle te ondersteun. “Dis baie moeilik om my toekoms in te dink sonder behoorlike opvoeding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Hulle het dan wys en syd verkondig dat die Westerse kultuur baie onderdrukkend is. Blykbaar gee sommige kulture nie eers effens almal die vryhede wat die weste gee nie. Tog word die einste kulture deur die weste as vry en regverdig besing. Maar daar is ook nooit optogte en protesaksie in daardie lande om die vryhede te verkry nie. Nie eers deur die luide profete daarvan nie.

Cherokee ·

In Suid Afrika het die massas ook gecheer toe die anc oorgeneem het in 1994. Jy sal dus dink dat dit geregverdig is as die Weste so oor SA sê.

Sê maar net ·

Nee hulle het nie! Waar hoor jy dit? As jy die nuus gevolg het sou jy weet hulle was angsbevange…en is steeds!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek was in Kabul vir werk. Dáár het hulle gecheer. Wou die Yanks net wegjaag. Ek weet nie van die platteland nie, ja.

Sê maar net ·

Hulle beheer en mishandel vroue. So tragies! Terug na die “stone age” waar vroue met ‘n “club” oor die kop geslaan en weggesleep word. Skande!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.