Talle sterf toe Taiwan-trein ontspoor

Trein ontspoor in Taiwan (Foto: Taiwan Rooikruis/Facebook)

Talle persone is dood ná ʼn volgepakte trein Vrydag in ʼn tonnel in die ooste van Taiwan ontspoor het aan die begin van die langnaweek. Reddingswerkers poog steeds om by slagoffers uit te kom wat in die wrak vasgekeer is.

Pres. Tsai Ing-wen se kantoor het gesê sy het hospitale opdrag gegee om voor te berei op massa ongevalle. “Die topprioriteit is nou om die gestrande persone te red.”

Die ongeluk het omstreeks 09:30 (0130 GMT) naby Hualien plaasgevind.

Foto’s deur die plaaslike nuuswebwerf UDN wys die voorkant van die trein is in die tonnel verwoes.

Spoorwegpolisie het gesê 36 passasiers is reeds dood verklaar. Nog 72 persone is vermoedelik in die trein vasgekeer en 61 persone is na die hospitaal geneem.

Die sentrale nooddienssentrum het egter ʼn laer dodetal van 26 aangedui.

“Ek het ʼn skielike ruk gevoel en ek het toe op die vloer geval,” het ʼn vroulike slagoffer, wie se naam nie bekendgemaak is nie, aan UDN gesê. “Ons moes die ruit breek om na die dak van die trein te klim om uit te kom.”

Die trein was van Taipei na Taitung op pad en het sowat 350 passasiers vervoer. Plaaslike media het gesê die ongeluk is moontlik veroorsaak deur ʼn konstruksievoertuig wat teen ʼn helling afgery en toe die trein getref het. Foto’s van die toneel wys die agterkant van ʼn geel vragmotor wat op sy sy langs die trein lê.

Die ongeluk het plaasgevind tydens die aanvang van die besige jaarlikse Qingming-fees, ʼn vakansienaweek waar Taiwan se paaie en spoorweë gewoonlik baie besig is. Tydens die fees besoek mense hul voorouers se dorpe om die grafte van hul voorvaders op te knap en offers te maak.

Vrydag se ongeluk is moontlik een van Taiwan se ergste spoorwegongelukke oor die afgelope paar dekades. Die laaste groot ongeluk waar ʼn trein ontspoor het, het die lewe van 18 mense geëis. Meer as 200 van die 366 persone aan boord is beseer. In 1991 is 30 persone dood en 112 beseer toe twee treine in Miaoli gebots het. Minstens 30 persone is in 1981 dood toe ʼn vragmotor ʼn passasierstrein getref het. En in 2003 is 17 persone dood en 156 beseer toe ʼn trein teen ʼn afgrond afgery het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

akkedismis ·

Baie van treine in Taiwan gebruik gemaak. Die skoonste,gerieflikste en ALTYD op tyd .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.