Tien in New Yorkse moltrein geskiet

New Yorkse polisiebeamptes deursoek die moltrein. (Foto: Alexi Rosenfeld / Getty Images via AFP)

Die polisie in New York is nog op die spoor van ’n man wat Dinsdagoggend tien mense op ʼn volgepakte moltrein in Brooklyn geskiet het.

Die skieter het ’n gasmasker aangehad toe hy twee rookbomme in die moltrein afgevuur en op verskrikte pendelaars losgebrand het.

Tien mense is in die voorval gewond terwyl 13 ander beseer is toe hulle inderhaas uit die moltreinstasie in Sunset Park probeer vlug of rookinaseming opgedoen het.

Nie een van die gewondes se beserings word as lewensgevaarlik beskou nie.

“Ons is werklik gelukkig dat dit nie aansienlik erger was nie,” het Keechant Sewell, kommissaris van die New Yorkse polisiedepartement, ná die voorval op ’n perskonferensie gesê.

Volgens James Essig, hoof van die NYPD, is 33 skote tydens die voorval afgevuur. ’n Vuurwapen en ammunisie is op die toneel gevind. Geen inhegtenisneming is egter al gedoen nie.

ʼn “Persoon van belang” is wel geïdentifiseer. Dié persoon word beskryf as ʼn “man met ʼn donker gelaat” in ʼn neon-oranje frokkie en ʼn grys sweetpaktop met ’n kappie.

Sewell en Essig het gesê die persoon van belang het verskeie video’s op YouTube gelaai van homself wat lang, soms aggressiewe politieke tirades lewer. Hy het ook Eric Adams, burgemeester van New York, in die video’s gekritiseer.

Daar kan in video’s van die voorval op sosiale media gesien word hoe die trein by die 36ste Straat-stasie intrek voordat rook en passasiers, sommige oënskynlik beseer, by die deure uitstroom.

Een van die passasiers het aan CNN vertel dat hy baie bloed gesien het voordat die deure van die trein by die stasie oopgemaak het.

“Mense het uitgehardloop. Mense het sakke en skoene vergeet. Hulle het alles gelos om net so gou moontlik daar uit te kom.”

Stukkende veiligheidskameras

Essig het gesê die New Yorkse polisie is bewus van drie moltreinstasies waarvan die veiligheidskameras nie tydens die moltreinskietery gewerk het nie.

’n Ondersoek is gelas om te bepaal of dit weens ʼn meganiese of elektriese probleem was.

Pres. Joe Biden het intussen gesê sy span is in noue kontak met New Yorkse amptenare.

“Ons gaan nie opgee totdat ons die oortreder gevind het nie,” het Biden bevestig.

Massaskietery gebeur gereeld in die VSA, waar vuurwapens jaarliks by ongeveer 40 000 sterftes waaronder selfmoord betrokke is, aldus Gun Violence Archive se syfers.

Skietvoorvalle in New York City het vanjaar toegeneem. Die aantal skietvoorvalle het teen 3 April tot 296 gestyg vergeleke met 260 voorvalle dié tyd verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Estelle ·

Sommige mense is darem net wild. Jammer die mensdom het so wreed geword. Hoop die wat beseer is word vinnig gesond. Fisies en Emosioneel.

Eclectus ·

In Amerika sterf tienduisende meer keer mense weens mediese wanpraktyke en dwelms. Massa skietery is ook baie meer prominent in “gun free” state en stede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.