Tiener skep gratis app vir gestremde sus

Della Caldor. (Foto: Freespeech.com)

ʼn Tiener van Texas in Amerika wou sy gestremde sussie so graag help om te kommunikeer dat hy sy eie gratis app op die internet geskep het om juis dít te kan doen.

Die 17-jarige Archer Calder se suster, Della (14), het Bainbridge-Ropers-sindroom, ʼn neurologiese toestand wat Della se vermoë om te eet, beweeg en praat belemmer. Sy het tot dusver ʼn kombinasie van handgebare en kort klanke gebruik om oor te dra wat sy wil sê.

Haar gesin het reeds verskeie alternatiewe kommunikasietoestelle aangewend in die hoop dat dit Della sou help om met hulle te “praat”. “Dit was egter baie teleurstellend. Sy het geweier om die eerste toestel wat ons vir haar gekoop het, te gebruik en het die tweede een sommer gou gebreek,” het Della en Archer se ma, Caitlan Calder, aan CNN gesê.

Die koste van die toestelle het boonop die gesin se sak geruk. Archer het gevoel dat dit onregverdig is dat ouers soveel moes betaal net om hul kinders die basiese reg te gee om te kommunikeer.

“My suster wil kommunikeer soos alle ander mense,” sê Archer. Daarom het hy sy kennis en vaardighede van kodering ingespan om ʼn webgebaseerde toestel te ontwerp om sy suster te help kommunikeer. Enigiemand met toegang tot die internet kan nou gratis gebruik maak van Freespeech, ʼn webwerf wat gebruikers in staat stel om verskillende knoppies te programmeer om met bepaalde beelde te verbind. Hierdie beelde verteenwoordig woorde, wat die rekenaar dan namens die persoon uitspreek.

Archer Calder. (Foto: Facebook)

“Anders as ander toestelle, is dit maklik om die betekenis en beelde wat met elke knoppie verbind word, te verander,” verduidelik Archer. “Dit is iets wat besonder belangrik is vir Della, aangesien haar belangstellings gedurig verander en sy ʼn behoefte aan ander woorde en uitdrukkings ontwikkel.”

Só kan knoppies geprogrammeer word om die karakters van haar gunstelingtelevisieprogramme te verteenwoordig.

“Dit het haar ʼn ruk geneem om die app te verstaan, maar ons kan reeds sien hoe Freespeech haar meer by die familie se gesprekke betrek,” het Caitlan aan CNN gesê.

Archer is egter nog nie heeltemal tevrede met hoe die app daar uitsien nie en bring deurlopend verbeterings aan die webwerf aan. Hy wil ook graag die sagteware beskikbaar stel aan mense wat nié toegang tot die internet het nie.

Klik hier om van Freespeech gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.