‘Titanic’-regisseur James Cameron oor hoekom ‘Titan’ inplof

Titanic-regisseur James Cameron tydens ‘n onderhoud met ABC News. (Skermgreep: Twitter/ABC News)

James Cameron, Oscar-bekroonde regisseur van die lokettreffer Titanic en self ʼn uiters ervare duiker, sê die Titan-duikboot het die afgelope week onderwater ingeplof omdat dit nie van die korrekte materiaal vervaardig is nie.

Die onderwatertuig het Sondag spoorloos verdwyn nadat dit met ʼn duiktog na die wrak van die Titanic begin het. Aan boord was vyf mense: Britse miljardêr Hamish Harding, skatryk Pakistans-Britse burgers Shahzada Dawood en sy seun, Suleman, asook OceanGate se uitvoerende hoof, Stockton Rush, en ʼn Franse duikbootoperateur, Paul Henri-Nargeolet, ook bekend as “Mr. Titanic” weens sy gereelde duike by die wrak.

Daar is dae lank na die tuig gesoek, tot ʼn onderwaterrobot Donderdag op die wrakstukke van die Titan naby dié van die Titanic afgekom het.

Skout-admiraal John Mauger het gesê die kuswag kan nie seker wees wanneer of hoekom die vaartuig ingeplof het nie, terwyl OceanGate gesê het die passasiers is dood in wat vermoedelik ʼn “katastrofiese inploffing” van die tuig se drukromp was.

Cameron, wat beskou word as ʼn voorste kenner van duik en onderwatertuie, het sy opmerkings oor die rede vir die inploffing in onderhoude met ABC News en The New York Times gemaak.

“Ek was al verskeie kere daar. Ek ken die [Titanic-]wrakterrein baie goed. Ek het 33 duike gedoen en het bereken dat ek al meer tyd op die skip deurgebring het as wat die kaptein daarvan destyds gedoen het.”

Cameron sê as ontwerper van onderwatertuie het hy self ʼn duikboot ontwerp en gebou om na die diepste gedeeltes van die oseaan te gaan – drie keer dieper as die vlak waarop die Titanic lê. “Ek het begrip vir die ingenieursprobleme wat verband hou met die bou van hierdie soort tuig en die veiligheidsprotokol waardeur jy moet gaan.”

Volgens hom was daar nog nooit tevore enige sterftes op hierdie soort onderwaterekspedisie nie en die Titan het ingeplof omdat dit van koolstofvesel gemaak is. Dit is sterker en ligter as staal of aluminium, maar het heelwat minder krag onder groot druk.

Die inploffing – wanneer ʼn voorwerp na binne ontplof – sou ʼn uiters gewelddadige oomblik gewees het, sê Cameron; naastenby gelykstaande aan tien kiste dinamiet wat ontplof.

Hy het in die onderhoude ook gesê sulke diep duiktogte is ʼn fyn kuns en dat alle duikbote “behalwe hierdie een” spesifieke en omvattende sertifiseringsprotokol ondergaan om te verseker dit is veilig vir passasiers.

Volgens hom was daar voor die ekspedisie al diepe kommer oor die veiligheid van die Titan. Daar was selfs briewe aan die maatskappy waarin OceanGate gewaarsku is dat hul werk en vaartuig té eksperimenteel is om passasiers te vervoer en dat dit gesertifiseer moet word.

“Ek word getref deur die ooreenkomste met die Titanic-ramp waar die kaptein herhaaldelik gewaarsku is oor die ys voor sy skip. Tog het hy op ʼn maanlose aand volspoed vorentoe in ʼn ysveld ingestoom en talle mense het as gevolg daarvan gesterf,” sê Cameron.

  • Bykomende bron: ABC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Doen jouself ‘n guns en gaan lees die 2018 hofdokumente van die saak tussen David Lochridge en OceanGate. Alles behalwe 20/20 hindsight…..

Niklaas ·

Cameron weet waarvan hy praat. Baie ervare wat hierdie aktiwiteite betref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.