Top Aussie-spioen vra toegang tot geënkripteerde boodskappe

Australië se topspioen het Woensdag groot tegnologiemaatskappye gevra vir beter samewerking en die verbreking van ʼn lang taboe deur die staat om toegang tot geënkripteerde boodskappe te gee.

Mike Burgess, Australiese intelligensiehoof, sê geënkripteerde boodskappe kan bedreigings uit die weg ruim.

“Tegniese maatskappye het ʼn plig om enkoderings te verbreek wanneer hulle daarom gevra word.

Baie tegnologiese platforms is trots op die vermoë om privaatheid deur geënkripteerde boodskapkanale te waarborg en toegang aan wetstoepassingsowerhede word as buite die kwessie beskou.

Maatskappye soos Apple, Google en Microsoft het in die verlede soortgelyke versoeke om toegang van die hand gewys en dit as ʼn bedreiging bestempel vir kuberveiligheid en gebruikers se privaatheid.

“Enkripsie is duidelik ʼn goeie ding, ʼn positiewe ding vir ons demokrasie en ons ekonomie,” het Burgess gesê.

Hy meen aan die ander kant ook dit kan terroriste en spioene, saboteurs en misdadigers help beskerm. “Ek vra, dring daarop aan, dat tegnologiemaatskappye met ons saamwerk om hierdie uitdaging op te los.

“Ek vra nie vir nuwe wetgewing nie. Ek vra nie vir nuwe magte nie. Ek vra vir die tegnologiemaatskappye om meer te doen.”

Burgess sê intelligensie-agentskappe ondersoek tans ʼn “ekstremistiese rassistiese netwerk”, wat geënkripteerde boodskappe gebruik en wat “afskuwelike propaganda deel, wenke oor tuisgemaakte wapens plaas en besprekings voer oor hoe om ʼn rasse-oorlog te ontketen”.

Reece Kershaw, Australiese federale polisiekommissaris, het by dieselfde geleentheid die tegno-reus Meta uitgesonder, wat begin-tot-einde-enkripsie vir Facebook en Facebook Messenger bekend gestel het.

Dié enkripsie keer die onderskepping van boodskappe deur wetstoepassers en beteken slegs die stuurder en ontvanger kan die inhoud daarvan lees. Kershaw sê dit sal ondersoeke ernstig belemmer. Hy bestempel die gebrek aan samewerking met die owerhede as  ʼn skande.

Apple het ʼn regsgeding, om ʼn iPhone-enkripsie te verswak sodat owerhede boodskappe van ʼn verdagte in die 2015-bomaanval in Kalifornië kon lees, teengestaan.

Polisiebeamptes wêreldwyd meen enkripsie kan misdadigers en terroriste en onwettige pornografie-gebruikers beskerm, selfs wanneer die owerhede ʼn wettige lasbrief vir ’n ondersoek het. Voorstanders van burgerregte en privaatheid, in samewerking met kuberveiligheidspersoneel, bepleit die enkripsie van data om mense te beskerm teen ʼn onregmatige gesnuffel deur owerhede, asook kuberkrakers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacques ·

Ons almal weet dit gaan nie oor die terroriste wat hulle wil vang, maar oor die terrorisme wat hulle wil pleeg. Teen die mensdom. Die stewel van die autoritêre sisteem beginte trap al swaarder.

Griesel ·

Tsek! As ons julle maar net kon vertrou om te hou by dit waarvoor julle sê julle dit wil gebruik. Probeer ‘n ander verskoning…

Piet Snot ·

Die manne wat die toegewing vra, het reeds bewys hulle kan nie daarmee vertrou word nie.

Hallo daar ·

Hulle sê altyd dat hulle dit net teen misdadigers wil gebruik. Die ou verskoning dat “as jy onskuldig is het jy niks om weg te steek nie”. In Kanada wou die regering dieselfde doen tydens Covid om mense met “gevaarlike” opinies te ondersoek. So nee dankie.

Manie ·

Ek hunker gereeld na die dae van die brief en posseël en die afwagting op ‘n antwoord brief, bankboekie, melkbottel en koepon, draadloos, fietsry of stap as jy met iemand wou praat, buite kommervry op die gras slaap, kaalvoet loop tot in standerd 5, boeke uitneem by die biblioteek as jy inligting benodig het en sommer net alles wat mooi en goed was in plaas van vandag se siek en gejaagde lewe met tegnologie wat ons verswelg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.