Tragiese einde vir vasgekeerde seun in Viëtnam

Die betonpilaar is op ʼn bouperseel waar ʼn nuwe brug gebou word (Foto: STR, AFP)

ʼn Tienjarige seun wat vir vier dae in ʼn hol betonpilaar in ʼn konstruksiegat op ʼn bouperseel in die Dong Thap-provinsie in Viëtnam vasgekeer was, is Woensdag dood verklaar.

Doan Tan Buu, adjunkhoof van die provinsie, het Woensdag Thai Ly Hao Nam se dood amptelik aangekondig ná oorlegpleging met mediese kundiges.

Nam se liggaam is egter steeds in die pilaar en reddingswerkers spook dae aaneen om die liggaam so gou moontlik uit die pilaar te kry.

“Dit is ʼn baie moeilike taak omdat die liggaam baie diep in die pilaar vasgekeer is,” het Buu bevestig.

Nam het Saterdag in die betonpilaar van sowat 35 m diep geval toe hy skrootmateriaal op die bouperseel gesoek het. Sy hulpkrete is gehoor en reddingswerkers is ontbied wat sedertdien hard gewerk het om die seun te bevry.

Die betonpilaar is op ʼn bouperseel waar ʼn nuwe brug gebou word.

Nam het Maandag opgehou om met die reddingswerkers aan die buitekant van die gat te kommunikeer, hoewel suurstof heeltyd in die gat gepomp is.

Volgens Buu het Nam vir ʼn lang tyd nie genoeg suurstof gekry nie, wat moontlik tot sy dood bygedra het. Hy het ook veelvuldige beserings opgedoen.

“Ons het die redding van die seun geprioritiseer. Die toestande het dit egter vir hom onmoontlik gemaak om te oorleef.”

Die Viëtnamese regering het Dinsdag honderde soldate en ingenieurs gemobiliseer om Nam te probeer red.

ʼn Metaalpyp van 19 meter is rondom die betonpilaar laat sak om modder te verwyder en die pilaar te probeer uitlig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miskruier ·

Hier loop die kinders ook en soek skrootmateriaal, tot ergernis van die wat dit nog gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.