Trump betaal borgakte van $175 miljoen

Oudpres. Donald Trump. (Foto: Charly TRIBALLEAU / AFP)

Oudpres. Donald Trump het Maandag ʼn borgakte van $175 miljoen (sowat R3 miljard) in sy New Yorkse siviele bedrogsaak betaal om te verhoed dat daar beslag gelê word op sy bates en dat sy sakeryk ineenstort.

ʼn Hof het aanvanklik gelas dat Trump $454 miljoen betaal nadat hy en sy twee volwasse seuns daaraan skuldig bevind is dat hulle hul rykdom onregmatig opgeblaas het en die waarde van eiendomme gemanipuleer het om gunstiger banklenings of versekeringsvoorwaardes te verkry.

Die appèlhof in New York het egter verlede maand die bedrag na $175 miljoen verminder en die oudpresident tien dae gegee om dié bedrag op te dok.

“Ek respekteer die besluit van die appèlafdeling en sal binne die tien dae $175 miljoen in kontant en effekte of sekuriteit of wat ook al nodig is baie vinnig betaal,” het Trump kort ná die appèlhof se uitspraak op 25 Maart gesê.

Die bedrag is sedertdien betaal, aldus ʼn hofdokument.

Die reddingsboei kom van ʼn Kaliforniese maatskappy genaamd Knight Specialty Insurance Company, wat die betaling aangekondig het in ʼn dokument wat Maandag deur die hof uitgereik is.

Staatsamptenare het hulle voor die betaling daarop voorberei om beslag te lê op Trump se eiendom om die uitspraak gestand te doen. Die eiendom sou onder meer insluit Trump Tower in New York en die Trump se Mar-a-Lago-landgoed in Florida.

Trump gemuilband

Die regter wat toesig hou oor Trump se strafregtelike saak het intussen ʼn bevel uitgereik om die oudpresident te muilband nadat Trump verskeie aanlyn aanvalle op die regter se dogter geloods het.

Regter Juan Merchan verbied Trump met die muilbandbevel om sy familielede of dié van Alvin Bragg, ʼn Manhattan-aanklaer, te kritiseer.

Dié saak hou verband met ʼn swygbetaling wat glo weke voor die Amerikaanse verkiesing van 2016 aan ʼn pornoster gemaak is.

Maroela Media het vroeër berig sowat $130 000 (R1,8 miljoen) is destyds voor die verkiesing waarin Trump president geword het aan Stormy Daniels betaal om haar swye te verkry oor ʼn verhouding wat sy beweer sy jare gelede met ʼn getroude Trump gehad het.

Trump ontken die verhouding.

Hy het die muilbandbevel ook as ongrondwetlik bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gaitsigubib ·

Eintlik moet julle die clip aanheg waar hy kastig die regter se dogter dreig sodat lesers self kan besluit of dit wel die geval is.

Gaitsigubib ·

…….en daar haak die gramafoon weer vas. Selde sinnetjie sonder feite.

Cherokee ·

Net soos jy sê Gaitsigubib, selfde holrug sinnetjie sonder feite. Mense wat die ou grammefoonplate geken het, weet hoe dit klink wanneer ‘n grammefoonplaat vashaak.

Michael ·

Ek stem saam daar net soos lesufi, sê iets sonder enige feite en begin dan homself glo…….tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.