Tuimeltrein ontspoor in Swede

Die Jetline-tuimeltrein by die Gröna Lund-pretpark in Swede (Foto: Gröna Lund/Facebook)

Een persoon is dood en sewe beseer toe ʼn tuimeltrein Sondag in Swede ontspoor het, het die polisie en die pretpark in Stockholm gesê.

ʼn Waentjie van die Jetline-tuimeltrein het weggebreek en van ʼn hoë hoogte geval, aldus ʼn korrespondent vir die Sweedse televisiestasie SVT by die Gröna Lund-pretpark.

Die rit, wat in 1988 bekendgestel is, haal ʼn snelheid van sowat 90 km/h.

“Een persoon is ongelukkig oorlede,” het Cecilia Bjorling, woordvoerder van die pretpark, aan AFP gesê.

Die polisie in Stockholm het bevestig sewe persone is beseer en is na ʼn hospitaal geneem. “Die persone is beseer toe hulle geval het,” het Helena Bostrom, woordvoerder van die polisie, gesê.

Hakan Eriksson, woordvoerder van die stad se nooddienste, het aan AFP gesê hulle is omstreeks 11:40 ontbied.

Die park is ontruim en die polisie en ambulanse is na die toneel ontbied.

“Ek het ʼn harde metaalklank gehoor en toe het die rit begin skud,” het korrespondent Jenny Lagerstedt aan SVT gesê. “My man, wat ʼn ent daarvandaan gesit het, het gesien hoe die karretjie loskom en val.”

“Ek het onlangs die park saam met my gesin besoek. Ek kan my nie eers indink hoe dit moet voel as die mooiste dag in ʼn nagmerrie ontaard nie,” het Parisa Liljestrand, minister van kultuur, aan die TT-nuusagentskap gesê.

Die pretpark het intussen op sosiale media bevestig dit is vir minstens ʼn week lank gesluit.

“Dit is ʼn baie hartseer dag vir Gröna Lund en ons dink aan diegene wat hierdeur geraak word en hul families.”

Daar was 14 persone aan boord toe die ongeluk gebeur het.

“Só ongeluk moet glad nie kan gebeur nie,” het die pretpark bygevoeg. “Ons sal alles in ons vermoë doen om te bepaal wat gebeur het en hoe dit kon gebeur het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Tredoux ·

Sjoe! Dit gebeur ook met roller-coasters. Wat is hierdie tuimeltrein waarvan julle praat?

Johan Tredoux ·

LOL! Ek het so aangeneem. Maar ek het nooit voorheen iemand dit hoor sê nie. Dit klink amper soos “ons moet dringend n woord in afrikaans uitdink om suiwer te bly”.

Gerhard ·

As jy in ag neem dat die roller coaster al 35 jaar in werking is – Hierdie gaan weer n voorbeeld wees van hoekom instandhouding en veiligheids toetse belangrik is. Soos met baie voorbeelde in ons land kan swak instandhouding soos n tydbom wag om te ontplof. Net baie hartseer iemand is alweer dood om mense te herinner daaraan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.