Tweeling kan mekaar na 4 jaar in die oë kyk

Bernardo en Arthur Lima na die operasie (Foto: Gemini Untwined/AFP)

’n Saamgegroeide tweeling is op vierjarige ouderdom van mekaar geskei in wat dokters beskryf as een van die ingewikkeldste operasies van sy soort.

Arthur en Bernardo Lima is in 2018 in Roraima in die noorde van Brasilië gebore en was aan die skedel geheg. Hulle was tot dusver vir die meeste van hul kort lewens in hospitale, maar kan mekaar nou vir die eerste keer in die oë kyk nadat hulle na ’n reeks van nege operasies van altesaam 23 uur suksesvol geskei is.

Die Londense liefdadigheidsorganisasie Gemini Untwined, wat gehelp het om die prosedure uit te voer, het dit beskryf as die “uitdagendste en ingewikkeldste skeiding tot nog toe”, aangesien die seuns verskeie noodsaaklike are gedeel het.

“Dit was die moeilikste, ingewikkeldste, uitdagendste operasie van my loopbaan,” het Gabriel Mufarrej, neurochirurg by die Paulo Niemeyer State Brain Institute Rio de Janeiro, waar die prosedure uitgevoer is, gesê.

Bernardo en Arthur Lima voor die operasie (Foto: Gemini Untwined/AFP)

“Niemand het aanvanklik geglo dit is moontlik nie. Om hulle albei te red is ’n geskiedkundige prestasie.”

Lede van die mediese span, wat byna 100 personeellede ingesluit het, het met behulp van virtuele realiteit voorberei vir die delikate finale stadiums van die operasie op 7 en 9 Junie.

Deur breinskanderings te gebruik om ’n digitale kaart van die seuns se gedeelde skedel te skep, het chirurge tydens ’n virtuele-werklikheid-proefoperasie voorberei wat in Brittanje sowel as Brasilië uitgevoer is.

Foto’s en video’s wat deur mediese personeel vrygestel is, wys hoe die seuns ná die operasie langs mekaar lê, terwyl klein Arthur sy hand uitsteek om aan sy broer se hand te raak.

Die seuns herstel nog en sal moontlik verdere prosedures benodig soos hulle verder ontwikkel, het dokters gesê. Hulle sukkel met spraak, en Bernardo het ’n motoriese agterstand aan die regterkant van sy lyf, het Mufarrej gesê.

“Hulle sal ’n rukkie neem om by die punt te kom waar ons wil hê hulle moet wees. Maar ek glo in hulle,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Onnie ·

Dis hartroerend hoe die tweetjies mekaar se hande vasklou. Ek bid dat hulle ‘n wonderlike vol en lang lewe saam sal hê.

Faraway ·

. . . want ek glo in hulle”
Nee ek glo in JESUS CHRISTUS by wie alle dinge moontlik is

Mallie ·

Hoe GROOT IS U ??? Baie geluk aan die dokters wat die operasies uitgevoer het. Dankie aan ons Hemelse Vader wat hulle die vermoeens gegee het om die operasies te kon uitvoer. Alle eer aan ons Heer.

Miena ·

Dis nou n goeie storie. Welgedaan en baie geluk!!!
Ek wonder net – is daar enige mediese beroepsgerigte persoon dalk hier? Ek sien op die foto van hoe hulle geheg is- hoe het hulle die laaste paar maande (3e trimester) in die baarmoeder gele dan?

Groen-oog ·

Daai wonder ek ook. Ek “picture” dit in my gedates en dit moet iets wees soos n “snoekerstok” n lang reguit effek soos hulle in die baarmoeder gele het. Dalk is ek verkeerd…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.