ʼn Japanse man wat as die “Twitter-moordenaar” bekend staan, is Dinsdag deur ʼn hof in Tokio ter dood veroordeel vir die gru-moorde op nege mense.
Takahiro Shiraishi (30) het erken dat hy sy jong slagoffers vermoor en hul liggame geskend het. Agt van sy slagoffers was vroue.
Sy regspan het aangevoer dat hy gevangenisstraf moet kry omdat sy slagoffers, tussen 15 en 26 jaar oud, selfmoordgedagtes op sosiale media uitgespreek het en dus ingestem het om dood te gaan. Die regter het dit egter verwerp en Shiraishi ter dood veroordeel.
Shiraishi het Twitter-gebruikers wat inskrywings oor selfmoord gemaak het gekontak en vir hulle gesê dat hy hulle met hul planne kan help – of selfs bereid is om saam met hulle te sterf.
Hy is in Oktober 2017 in hegtenis geneem nadat die polisie op sy woonstel toegeslaan het. Beamptes het die woonstel as ʼn “huis van gruwels” bestempel nadat daar op die nege geskende liggame afgekom is. Liggaamsdele is in koel- en gereedskapkaste gestoor.
Aiko Tamura (23) het kort voor Shiraishi se inhegtenisneming vermis geraak. Haar broer het toegang tot haar Twitter-rekening gekry en agterdogtig begin raak. Hy het die polisie gehelp om Shiraishi op te spoor.
Japan is een van die min ontwikkelde lande wat steeds die doodstraf toepas, en die openbare steun daarvoor bly hoog.
Daar verloop gewoonlik jare tussen vonnisoplegging en teregstelling, en die laaste teregstelling was in Desember 2019 toe ʼn Chinese man gehang is vir die moord op ʼn gesin van vier.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
Neem asb kennis mnr Bheki Cele…dis hoe hulle rol in Tokyo.
Ek dink steeds daardie straf dien as afskrik middel om wreedaards te laat aarsel en huiwer, voor die pleeg van gruwel dade.
Goeie genade…….die man is SIEK!!!
Dis hoe dit gaan, om orde en respek in ‘n land te handhaaf… SA TAKE NOTE..
Wel jy het gesoek daarvoor, dra nou die gevolge van jou aksies.
Asb nie in SA nie. Dit sal net geld vir n sekere deel van die gemeenskap .. miskien as ons die regstelsel kon vertrou… maar nie op hierdie stadium nie dankie.