Varknier eerste keer suksesvol in lewende man oorgeplant  

Die geneties aangepaste varknier wat oorgeplant is. (Foto: Michelle ROSE/Massachusetts- algemene hospitaal/AFP)

ʼn Span Amerikaanse chirurge het ʼn geneties aangepaste varknier suksesvol in ʼn lewende mens oorgeplant.

Die prosedure, wêreldwyd die eerste van sy soort, kan help om iets te doen aan die chroniese tekort aan skenkerorgane.

Die vier uur lange operasie is Saterdag uitgevoer op ʼn 62-jarige man wat aan eindstadium-niersiekte ly, het die Massachusetts- algemene hospitaal in ʼn verklaring gesê.

“Die prosedure is ʼn groot mylpaal in die strewe om meer geredelik beskikbare organe aan pasiënte te verskaf,” lui die verklaring.

Orgaantekorte is ʼn chroniese probleem regoor die wêreld en volgens die hospitaal het hy alleenlik meer as 1 400 pasiënte op die waglys vir ʼn nieroorplanting.

“Ons hoop is dat hierdie oorplantingsbenadering ʼn reddingsboei sal bied aan miljoene pasiënte wêreldwyd wat aan nierversaking ly,” sê dr. Tatsuo Kawai, ʼn lid van die span wat die baanbrekeroperasie uitgevoer het.

Die hospitaal het gesê die varknier wat vir die oorplanting gebruik is, is verskaf deur ʼn biotegnologiemaatskappy in Massachusetts genaamd eGenesis en is geneties aangepas om skadelike varkgene te verwyder en sekere menslike gene by te voeg.

Die hospitaal het gesê die pasiënt, Richard Slayman van Weymouth, Massachusetts, “sterk goed aan en sal na verwagting binnekort ontslaan word”.

Hy sal immuunonderdrukkende middels gebruik om verwerping van die varknier af te weer.

Slayman, wat aan tipe 2-diabetes en hipertensie ly, het in 2018 ʼn oorplanting van ʼn menslike nier ontvang, maar dit het vyf jaar later begin misluk en hy is op dialise.

Slayman het gesê hy het ingestem tot die varknieroorplanting “nie net as ʼn manier om my te help nie, maar as ʼn manier om hoop te gee aan die duisende mense wat ʼn oorplanting nodig het om te oorleef”.

Varkniere is voorheen in pasiënte wat breindood verklaar is oorgeplant, maar Slayman is die eerste lewende persoon wat so ʼn orgaan ontvang het.

Geneties aangepaste varkharte is onlangs in twee pasiënte by die Universiteit van Maryland oorgeplant, maar albei het minder as twee maande ná die operasie geleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gaitsigubib ·

Vertel ons gerus van die operasie, maar vertel ons dan ook wat is jul definiese van n “sukses” is. Die mediese wereld mag dit dalk as n deurbraak beskou, maar wat noem jy dit as die nier verwerp word en die pasient se lyding vererger?

koos ·

Wat van varkbrein oorplantings vir die huidige regime? Dit kan daarna net beter gaan in hierdie land.

Olive ·

Ek dink die opskrif is nogal snaaks. Want hoekom sal hulle ‘n nier in ‘n dooie man oorplant?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.