Verdagtes gesoek ná skietery in Florida

ammunisie-vuurwapenwet-vuurwapens

Twee mense is dood en minstens 20 gewond ná ‘n massaskietvoorval in Florida, VSA. (Foto: David Levêque/Unsplash)

Twee mense is dood en minstens 20 gewond nadat drie verdagtes met ski-maskers lukraak op konsertgangers naby Miami Gardens in Florida losgebrand het.

Luidens ’n verklaring deur die Miami-Dade-polisie het ’n groep mense wat die konsert bygewoon het, buite saamgedrom toe ’n Nissan Pathfinder daar stilgehou het.

“Drie verdagtes het uit die voertuig geklim en blindelings op die groep begin skiet voordat hulle weer weggejaag het.

“Twee mense is op die toneel dood verklaar, terwyl 20 slagoffers na die hospitaal gehaas is.”

Freddy Ramirez, die polisie se departementshoof, het die voorval op Twitter as ʼn “geteikende, lafhartige daad van vuurwapengeweld” bestempel.

“Hierdie is koelbloedige moordenaars wat aan die pen moet ry.”

Die polisie het die gemeenskap versoek om met inligting vorendag te kom wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei.

Florida het die afgelope paar jaar onder etlike massaskietvoorvalle deurgeloop.  In 2016 is 49 mense doodgeskiet en minstens 68 gewond toe ’n gewapende man op die Pulse-nagklub in Orlando toegeslaan het.

Die Gun Violence Archive (GVA) het vroeër die maand aangedui dat meer as 200 massaskietvoorvalle reeds sedert die begin van die jaar in die VSA plaasgevind het. Die meeste hiervan was in die eerste drie maande van 2021.

In Mei vanjaar is 68 massaskietvoorvalle deur GVA aangeteken.

Luidens dié organisasie se statistieke is nagenoeg 43 000 mense in 2020 weens vuurwapengeweld in die VSA dood.

Pres. Joe Biden het vuurwapengeweld in dié land as ’n “epidemie” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Madelein ·

Baie snaaks hoe daar skielik so baie skietvoorvalle daar is vandat Biden ingekom het. Wonder of dit te doen het met die feit dat hulle almal wil ontwapen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.