Video: Joe Biden val van sy fiets

President Joe Biden val van sy fiets af. (Foto: SAUL LOEB / AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het Saterdagoggend naby sy strandhuis in die Amerikaanse deelstaat Delaware ten aanskoue van verskeie omstanders van sy fiets geval.

Die 79-jarige Demokraat het darem ongedeerd daarvan afgekom.

“Ek is orraait,” het Biden verseker terwyl omstanders hom opgehelp het.

Biden het saam met die presidentsvrou, Jill Biden, in ’n park naby hul strandhuis by Rehoboth Beach, Delaware, fietsgery en gestop om met omstanders te gesels toe sy voet aan die pedaal vashaak en hy in die proses sy balans verloor het.

“Geen mediese bystand is nodig nie,” het ’n amptenaar van die Withuis kort ná die voorval gesê. “Die president sien uit daarna om die res van die dag saam met sy gesin deur te bring.”

President Joe Biden op sy fiets. (Foto: SAUL LOEB / AFP)

Biden het later die dag ook ongedeerd voorgekom nadat hy ’n kerkdiens bygewoon het.  Verslaggewers en omstanders het die president gevra het of hy enige beserings tydens die val opgedoen het.

Biden het nie hierop geantwoord nie, maar wel drie vinnige sprongetjies gegee en sy vuiste omhoog gehou om te wys dat hy perdfris is.

Biden is die oudste Amerikaanse president nog en daar word gereeld oor sy gesondheid bespiegel namate vrae oor ’n moontlike tweede termyn ontstaan.

Die president het in November 2020, kort ná sy verkiesing, maar voordat hy die amp beklee het, sy voet gebreek terwyl hy met sy Duitse herdershonde gespeel het.

Biden se dokter het hom egter in November 2021 as “sterk” en “gesond” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

miche ·

Biden het 2020 sy voet gebreek. Intussen weer op ‘n fiets geklim en gery….en dit op 79 jaar. Nou kasty almal die arme man omdat hy afgeval het…en Weer opgestaan het.

Yolandie ·

As daar klank was het ek kliphard gelag……..en dit is die president van die magtigste land in die wêreld. Het hulle hom regtig gekies……O wee.

Christine ·

Kyk, gee die duiwel wat hom toekom… Om op 79 nog fiets te ry, wil gedoen wees, maar ek dink net nie hy moet dit meer doen nie, want ooglopend vergeet hy om seker dinge te doen soos om jou voete op die grond te plaas as jy stop. Wanneer val hy voor ‘n bewegende voertuig in?

gpsa ·

Respek vir hom dat hy op 79 jarige ouderdom fiets ry. Val is deel van die sport, niks nuuts nie.

H.A. ·

Ek het amper gedink die Russe het hom geklits toe hy so val !

Marcello ·

Ek haal my hoed vir hom af, ek is baie jonger en sien nie eers kans om nog fiets te ry nie. My oupa het fiets gery totdat hy oorlede is….92jaar oud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.