Video: Tegnologie laat parapleeg weer loop

Gert-Jan Oskam van Nederland kan weer loop met behulp van tegnologie. (Foto: Swiss Federal Institute of Technology Lausanne)

‘n Man wat sowat 12 jaar gelede ná ʼn fietsongeluk verlam gelaat is, kan nou weer loop danksy elektroniese inplantings in sy brein.

Dié elektroniese inplantings – ʼn eerste vir die mediese veld – stuur Gert-Jan Oskam (40) se gedagtes na sy bene en voete deur middel van ʼn tweede inplanting in sy ruggraat.

Oskam is ʼn Nederlandse ingenieur wat in 2011 in ‘n fietsongeluk in China, waar hy gewerk het, beseer is.

Die inplantingstelsel is egter steeds in ʼn eksperimentele fase, maar Oskam kan deesdae weer staan en selfs trappe klim.

“Ek voel soos ʼn peuter wat weer leer loop,” het Oskam aan BBC gesê.

“Dit was ʼn baie lang reis tot hier, maar nou kan ek staan en ʼn bier saam met my vriend drink. Baie mense besef nie watter plesier dit is nie.”

Switserse navorsers het die ontwikkeling gelei wat Woensdag in die Nature-joernaal gepubliseer is. Die navorsers beskryf die inplantings as ʼn “digitale brug” tussen Oskam se brein en ruggraat, wat die beseerde gedeelte van die ruggraat omseil.

Prof. Jocelyn Bloch, ʼn neurochirurg van die Universiteit van Lausanne, het die delikate prosedure om die inplantings in die pasiënt se brein te plaas, uitgevoer.

Bloch het benadruk dat die stelsel nog in ʼn basiese navorsingsfase is en dit nog jare gaan duur voordat dit vir verlamde pasiënte beskikbaar sal wees. Volgens Harvey Shihota, uitvoerende hoof vir Brittanje se Spinal Research-liefdadigheidsorganisasie – wat nie betrokke was by die navorsing nie – is die nuwe tegnologie “baie bemoedigend”.

Bloch het aan BBC News gesê dit was haar span se doel om die stelsel so gou moontlik uit die laboratorium en in die kliniek te kry.

“Die belangrike ding vir ons is nie net om wetenskaplike proewe te doen nie, maar om uiteindelik groter toegang te gee vir meer mense met spinale beserings wat gewoond is daaraan om by dokters te hoor dat hulle nooit weer sal kan beweeg nie.

“Hoewel daar nog baie is om te verbeter met hierdie tegnologie, is dit nog ʼn opwindende sprong vir neurotegnologie en die rol daarvan in die herstel van funksionaliteit en onafhanklikheid van ons rugmurgbeseringsgemeenskap.”

Die prosedure

Gert-Jan stap met behulp van die “digitale brug” by die Universiteit van Lausanne se hospitaal. (Foto: Swiss Federal Institute of Technology Lausanne)

Die prosedure om Oskam se beweging te herstel is in Julie 2021 reeds uitgevoer. Bloch het gaatjies van sowat vyf sentimeter in deursnee aan elke kant van Oskam se skedel gesny, bo die gedeeltes van die brein wat beweging beheer. Daarna het sy twee skyfievormige inplantings, wat Oskam se breinseine stuur na twee sensors wat aan ʼn helmet op sy kop vasgemaak is, geplaas.

Die Switserse span het ʼn algoritme ontwikkel wat hierdie seine omskakel na instruksies om sy been- en voetspiere te beweeg deur ʼn tweede inplanting in Oskam se ruggraat, wat versigtig deur Bloch aan die senuweepunte wat aan loop verbonde is, geheg is.

Oskam kon ʼn week ná die operasie met behulp van ʼn loopraam staan en loop.

Volgens prof. Grégoire Courtine van die École Polytechnique Fédérale (Federale Politegniese Skool) in Lausanne, wat die projek gelei het, is Oskam se beweging stadig maar egalig.

“Om hom só natuurlik te sien beweeg, is roerend. Dit is ʼn paradigmaskuif in wat voorheen beskikbaar was.”

Die tegnologie

Gert-Jan en ‘n wetenskaplike stap saam. (Foto: Swiss Federal Institute of Technology Lausanne)

Die breininplantings bou voort op Courtine se vroeëre werk, waar slegs ʼn spinale inplanting gebruik is om beweging te herstel. Die spinale inplanting versterk swak seine van die brein na die beskadigde deel van die spinale kolom en het ʼn verdere hupstoot gekry deur vooraf geprogrammeerde seine van ʼn rekenaar.

In 2018 het David M’Zee die eerste pasiënt geword wat suksesvol met ʼn spinale inplanting behandel is – soveel só dat hy en sy vrou ʼn baba kon verwek, iets wat nie voorheen moontlik was nie.

Dieselfde tegnologie het ook verlede jaar vir Michel Roccati, ʼn man met ʼn afgesnyde ruggraat, toegelaat om weer te loop.

Oskam het self slegs een van dié spinale inplantings gehad voordat hy die breininplantings gekry het. Hy sê hy het nou selfs meer beheer as voorheen.

“Dit het vantevore gevoel asof die stelsel my beheer, maar nou beheer ek die stelsel.”

Nóg die vorige, nóg die nuwe stelsel kan konstant gebruik word nie, aangesien dit lywig en nog in ʼn eksperimentele fase is.

Pasiënte maak nou ʼn paar keer per week, vir ʼn uur of twee op ʼn slag, gebruik van die tegnologie as deel van hulle herstel. Courtine se maatskappy, Onward Medical, maak egter nou wysings om die tegnologie te kommersialiseer sodat pasiënte die stelsel ook in hulle daaglikse lewe kan gebruik.

“Dit gaan gebeur. Gert-Jan het die inplanting tien jaar ná sy ongeluk ontvang. Verbeel jou ons kan die brein-spinale koppelvlak weke ná ʼn besering toepas. Die potensiaal vir herstel is geweldig.”

Bykomende bronne: BBC, Swiss Federal Institute of Technology Lausanne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

Dit is fantasties vir iemand wat dit nodig het om n normale lewe te lei maar ook dalk die begin van Hybrid humans. Met die regte AI tegnologie en toestelle wat jou liggaam se funksies oorneem kan mens “Super Soldiers” skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.