Video: Vliegtuig stort neer in Victoriameer

Die vliegtuig se een vlerk steek by die water uit (Foto: NTV Kenya, Twitter)

ʼn Passasiersvliegtuig het Sondag in die Victoriameer in Tanzanië neergestort toe dit in stormweer by die Bukoba-lughawe probeer land het.

Precision Air het in ʼn verklaring gesê sy passasiersvlug, met 39 passasiers (38 volwassenes en een baba), het van die kommersiële hoofstad Dar es Salaam na Bukoba in Tanzanië gevlieg.

Die vliegtuig het die lughawe in Bukoba genader toe dit in die meer neerstort.

“Reddingspanne – wat uit tegniese personeellede van Precision Air bestaan – is tans op die toneel en ons kan bevestig dat altesaam 26 passasiers tot dusver gered en na nabygeleë hospitale gehaas is vir verdere mediese behandeling,” lui die verklaring.

“Geen sterftes is in hierdie stadium aangemeld nie.”

Die twee vlieëniers en twee bemanningslede is onder die mense wat nog gesoek word.

BBC berig die vliegtuig is amper heeltemal onder water, met net die bruin-en-groen stertvin wat bo die water uitsteek. Die wrak is omring deur reddingswerkers en vissersbote.

Die een punt van die aanloopbaan by Bukoba-lughawe lê reg langs die kus.

Nooddienswerkers gebruik toue om die vliegtuig uit die Victoriameer, Afrika se grootste meer, te probeer trek.

Pres. Samia Suluhu Hassan het haar meegevoel uitgespreek met diegene wat deur die ongeluk geraak is en het ʼn beroep op kalmte gedoen terwyl die reddingsoperasie voortduur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.