Video’s: Sikloon Freddy eis nog lewens in Malawi

Strukture het tydens sikloon Freddy in Blantyre weggespoel (14 Maart 2023) (Foto: Amos Gumulira/AFP)

Minstens 190 mense is in Malawi dood sedert sikloon Freddy die land oor die naweek getref het. Dit het oorstromings en modderstortings tot gevolg gehad, het owerhede Dinsdag gesê.

“Die dodetal het tot 190 toegeneem met 584 mense beseer en 37 wat vermis word,” het die departement van rampbestuur in ʼn verklaring gesê.

Talle is dood in modderstortings wat informele huise in die land se handelshoofstad, Blantyre, meegesleur het.

Die departement van onderwys het intussen bevestig die skole in Nsanje, Chikwawa, Mulanje, Phalombe, Blantyre, Thyolo, Chiradzulu, Mwanza, Neno en Zomba bly tot minstens 17 Maart 2023 gesluit. Klasse sal eers weer Maandag hervat.

Oorlewendes het in ongeloof gestaan en kyk na die verwoesting om hulle, met huise en strukture wat in die vloedwater meegesleur is. Talle glo daar is steeds mense wat onder die modder vasgekeer is, maar daar is geen reddingswerkers in sig nie.

John Witman, in sy 80’s, in ʼn reënjas en wolmus, staan saam met 10 familielede voor dit wat in ʼn stadium sy skoonseun se huis was. Nou is daar net klippe en ʼn stroom water – die huis het weggespoel.

“Ek wens ons kon hom vind om berusting te kry,” het hy aan AFP gesê. “Ons voel hulpeloos, want daar is niemand wat ons kan help nie. Ons weet nie wat om te doen nie.”

In Chimkwankhunda, ʼn distrik net ʼn paar kilometer daarvandaan, wys Steve Panganani Matera, met ʼn glimbaadjie, na ʼn hoop modder. “Daar was baie huise, maar nou is dit alles weg. Daar is baie liggame onder die modder, baie liggame.”

Noodreddingspanne verwag dat die dodetal verder sal styg.

“Dit is ʼn baie slegte situasie,” het Guilherme Botelho, noodprojekkoördineerder vir Dokters sonder grense (MSF), gesê. “Daar is baie ongevalle – beseer, vermis of dood, en die getalle gaan oor die volgende paar dae net styg.”

Sikloon Freddy het Malawi Maandagoggend vroeg getref ná dit oor die naweek Mosambiek geteister het.

Die storm het verlede week nieamptelik die Wêreld Meteorologiese Organisasie se rekord oortref as die tropiese sikloon wat die langste duur. Die vorige rekord was 31 dae in 1994 vir ʼn storm genaamd John. Die proses om Freddy amptelik aan te kondig as die nuwe rekordhouer, sal waarskynlik ʼn paar maande duur.

Freddy het ʼn paar weke gelede naby aan die Australiese kus gebroei en op 6 Februarie sy naam gekry.

Dit het die hele suidelike Indiese Oseaan oorgesteek en Madagascar op 21 Februarie getref, voor dit Mosambiek op 24 Februarie bereik het. Ongeveer 24 mense is in albei lande oorlede en nagenoeg 400 000 mense se lewens is deur die storm geraak.

Die storm het teruggekeer na die Indiese Oseaan, aangevuur deur die warm water, en oor die naweek baie sterker teruggekeer.

Inwoners in Blantyre aanskou die verwoesting van sikloon Freddy (14 Maart 2023) (Foto: Amos Gumulira/AFP)

Meteoroloë sê dit is selde dat siklone die hele Indiese Oseaan oorsteek. Die laaste geval was in 2000 en Freddy se terugkeer is selfs nog meer buitengewoon.

“Dit is baie seldsaam dat dié siklone hulself oor en oor aanvuur,” sê klimaatsveranderingkenner prof. Coleen Vogel van die Universiteit van die Witwatersrand. “Mens verwag nie dat hulle sal terugkeer ná hulle een keer getref het nie. Klimaatsverandering wys sy impak met dié stelsels.” Sy sê egter nog navorsing is nodig om dit met sekerheid te bevestig.

Meer as 19 000 mense is in Malawi deur die storm geraak, aldus die Verenigde Nasies. Die sikloon veroorsaak verdere probleme vir ʼn land wat reeds met sy dodelikste cholera-uitbreking nog sukkel. Sedert verlede jaar is meer as 1 600 mense reeds dood.

Die uitbreking het begin toe tropiese storm Anna die land verlede jaar getref het. Vrese vir ʼn cholera-oplewing word vererger deur ʼn tekort aan entstof.

“Dit is nog te vroeg om te sê of iets gaan gebeur, maar ons moet waaksaam wees en kyk of daar nog gevalle is,” het MSF se Botelho bygevoeg.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy meegevoel betuig oor die lewensverliese.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.