Vier dood ná skietery in VSA-winkelsentrum

Greenwood Park-winkelsentrum (Foto: Twitter)

Minstens vier mense, onder meer die skieter, is dood en twee gewond ná ’n skietery by ’n winkelsentrum in ʼn voorstad van Indiana in die VSA uitgebreek het.

Een van die omstanders op die toneel wat die skieter doodgeskiet het, word nou as ’n held beskou.

Sky News en The New York Times berig die man het Sondag omstreeks 21:00 die Greenwood Park-winkelsentrum in Greenwood binnegegaan en met ’n vuurwapen begin losbrand. Drie mense is noodlottig gewond.

Een van twee ander mense wat gewond is, is ’n 12-jarige meisie wat ’n ligte besering opgedoen het.

Jim Ison van die Greenwood-polisiestasie sê die skieter is deur ’n 22-jarige omstander doodgeskiet. Volgens Ison was die man wettiglik gewapen.

“Die ware held van die dag is die burger wat wettiglik ’n vuurwapen in daardie winkelsentrum gedra en die skieter gestuit het voordat meer mense doodgeskiet kon word,” het Ison gesê.

Name van die slagoffers, skieter of die omstander is nog nie bekend gemaak nie. Die motief is ook nog nie bevestig nie.

Ison het Sondag tydens ’n nuuskonferensie gesê daar is ’n “verdagte rugsak” in die winkelsentrum se badkamer gevind en die bom-ondersoekspan is ontbied. Ondersoekers het egter nie ’n ploftoestel in die sak gevind nie.

Die Greenwood-polisie het op Facebook gevra dat enige ooggetuies met inligting die polisiestasie kontak.

Indiana het vandeesmaand die wet geskrap wat lui dat mense ’n permit moet hê om ’n vuurwapen te dra – selfs al is die wapen versteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Toy ·

In ons land sal iemand wat die skieter geskied het, soos ‘n misdadiger behandel word.

Cherokee ·

Dit is in geen land teen die wet om ‘n skieter te skied.

Cherokee ·

Ek wonder of die skieter werklik die winkelsentrum met ‘n geweer binnegegaan het, en of dit die Maroela-vertaler is wat dink ‘n gun is ‘n geweer.

Christine ·

Nee! Hulle het ‘n jeugprobleem wat sonder dissipline en respek grootgemaak word!

ES ·

Die VSA moet net strenger wapenwette uitbring. Elke Jan Rap en sy hondjie kan ‘n vuurwapen koop. Ons sukkel ons dood om vuurwapenlisensies te kry, hulle moet dit net baie moeiliker maak.

Cobus ·

‘n Krimineel wat wil moor steur hulle glad nie aan wette nie en sal steeds ‘n wapen in die hande kry. Al wat sulke wette sal doen is om wetsgehoorsame burgers te ontwapen. Bravo vir die jong man wat die gemors kon stuit.

LIEZL ·

Dis nie die wapens wat die probleem is nie, dis die mens met sy sondige natuur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.