Vier dood, vyf vasgekeer ná Zim-goudmyn ineenstort

(Argieffoto).

Vier mynwerkers is dood en vyf ander vermoedelik onder die puin vasgekeer nadat ʼn skag by ʼn Zimbabwiese myn meegegee het, het die land se mynwerkersfederasie Saterdag gesê.

Die voorval by die Bay Horse Mine het Vrydag in Chegutu, sowat 120 km wes van die hoofstad Harare, plaasgevind, het die staatsbeheerde ZBC berig.

“Vier liggame is tot dusver herwin en vyf ander is steeds vasgekeer,” het Henrietta Rushwaya, president van die Zimbabwiese Mynwerkersfederasie, aan AFP gesê.

Sy sê 21 werkers is tot dusver uit die skag gered.

Vroeëre berigte van ZBC dui egter daarop dat tot 18 mense ondergronds begrawe kan wees.

Volgens Rushwaya “is 13 mense tydens die ineenstorting lewend na buite gebring … en nog agt is lewend gered”.

ZBC het ook berig die liggame van die slagoffers is in ʼn soek-en-reddingsoperasie van die regering, met die hulp van spesialismynwerkers, onder rotse gevind.

Zimbabwe het groot neerslae platinum, diamante, goud, steenkool en koper. Weens die sukkelende ekonomie, is onwettige mynbedrywighede egter aan die orde van die dag en dit vind dikwels onder gevaarlike ondergrondse omstandighede plaas.

Ongelukke is algemeen. In Februarie 2019 is 24 mynwerkers dood toe ʼn verlate skag ná stortreën in sentraal-Zimbabwe meegegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.