Vier in mesaanval by Australiese kerk beseer

Biskop Mar Mari Emmanuel is in ’n mesaanval by die Christ the Good Shepherd-kerk in Sydney beseer. (Foto: Skermskoot van die regstreekse uitsending.)

Vier mense is Maandag in ʼn aanval by ʼn kerk in Australië beseer – en dit ten aanskoue van sosialemediagebruikers wat aanlyn na die diens gekyk het.

Skynews Australia berig die aanval het tydens ʼn altaardiens by die Christ the Good Shepherd-kerk in Wakeley, in die weste van Sydney, plaasgevind.

Biskop Mar Mari Emmanuel was besig om te preek toe ʼn man in swart geklee na die kansel gestap en hom verskeie kere gesteek het. Grafiese beeldmateriaal wys hoe die biskop verbaas opkyk toe die man hom skielik oorval terwyl gille in die kerk opklink, berig Daily Mail. Emmanuel het glo beserings aan sy kop en gesig opgedoen. Die voorval het omstreeks 19:00 Australiese tyd plaasgevind.

Die aanvaller is steeds op vrye voet.

Vier mans tussen 20 en 60 jaar oud, onder wie Emmanuel, is in die aanval beseer. Luidens berigte is hul beserings nie lewensgevaarlik nie. Paramedici het drie van die slagoffers op die toneel behandel terwyl ʼn man in sy 50’s na die Liverpool-hospitaal geneem is.

Die voorval volg kort nadat ses mense Saterdag in ʼn mesaanval by die Bondi Junction Westfield-winkelsentrum in Sydney dood is. Die polisie het die aanvaller, Joel Cauchi, ʼn 40-jarige hawelose man wat glo geestesprobleme gehad het, op die toneel doodgeskiet. Onder die slagoffers is ʼn nuwe ma wie se nege maande oue baba steeds in die hospitaal is met ernstige beserings.

ʼn Persoon wat die jongste aanval op die Christ the Good Shepherd-kerk se Facebook-blad aanskou het, het gesê die biskop is verskeie keer “getref”.

“Ek het na die regstreekse uitsending gekyk. ʼn Jong man het hom aangeval, vermoedelik met ʼn wapen, maar dit was moeilik om te sien. Daar was verskeie vinnige houe,” het die persoon op Facebook geskryf.

“Die kerk het ingegryp, die regstreekse uitsending afgeskakel en dit verwyder. Bid asseblief vir ons dapper biskop.”

Die aanval het tot groot oproer en geweld buite die kerk gelei omdat sommige mense luidens berigte glo vermoed dat die aanvaller in die kerkgebou skuil. ʼn Groot polisieteenwoordigheid is ʼn kort ruk gelede nog in die omgewing gehandhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Grens ·

Nou baie mes aanvalle daar, ek is nou so dankbaar ek bly in Suid Afrika.

Republikein in die Wes Kaap ·

Grens, dit gaan erg in die townships. Ons is net nie daarvan bewus nie.

George ·

Julle het geen idee van die geweld wat plaas vind buite die voorafgeskepde voorstede nie.

Alex ·

Ek sien dis n aanval op Christene. Daai aanvaller is beslis nie een nie

Pieter ·

So gaan hulle nou messe ook onwettig maak? So sal die wereld nog agter kom, dat dit nie die wapen is nie, maar die mens met al sy duiwels. Maar nee, die is mos wettig en kan kom inbraak maak op die goeie landsburgers!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.