Vrou dood ná sekerheidswag operasie uitvoer

Argieffoto (Foto: Unsplash)

ʼn Vrou is Sondag in ʼn hospitaal in Pakistan dood nadat ʼn sekerheidswag, wat hom as ʼn dokter voorgedoen het, op haar ʼn operasie uitgevoer het. Die wag is al twee jaar gelede by dié hospitaal afgedank. Hy is ná die vrou se dood in hegtenis geneem.

Shameema Begum (80) het twee weke nadat die sekerheidswag, Muhammad Waheed Butt, op haar rug geopereer het in die Mayo-staatshospitaal in die stad Lahore gesterf. ʼn Gekwalifiseerde tegnikus was ook ten tyde van die operasie in die teatersaal teenwoordig.

ʼn Nadoodse ondersoek is gelas om vas te stel of Begum weens komplikasies van die operasie oorlede is.

ʼn Administratiewe beampte van die hospitaal het op voorwaarde van anonimiteit aan plaaslike media gesê Butt het ʼn operasie op Begum se rug uitgevoer, maar dit is nie duidelik watter soort operasie dit presies was nie.

Begum se familie het Butt vir die operasie betaal, asook vir twee opvolghuisbesoeke om haar wond te behandel.

Haar wond het kort ná die operasie begin bloei en sy het erge pyn ervaar. Haar familie het haar terug na die hospitaal geneem, waar hulle toe vasgestel het dat Butt eintlik ʼn kwaksalwer is.

Ali Safdar, woordvoerder van die polisie in Lahore, sê Butt doen hom al vir ʼn geruime tyd voor as ʼn dokter en het al talle huisbesoeke by pasiënte afgelê.

“Butt is al twee jaar gelede as sekerheidswag afgedank omdat hy pasiënte vir geld afgepers het,” sê Safdar.

Dit is nie die eerste keer dat só iets in hierdie hospitaal gebeur nie. Daar is ook in Mei ʼn man in hegtenis geneem wat hom ook as ʼn dokter voorgedoen het en ook geld uit pasiënte gemaak het.

In 2016 het dit aan die lig gekom dat ʼn vrou haar agt maande lank as ʼn neurochirurg voorgedoen en saam met gekwalifiseerde dokters operasies uitgevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fae Fubar ·

Reality is stranger than fiction. Hoe op dees aarde kry die mense ooit toegang tot die teater? Met elke operasie wat ek ondergaan het, was daar ‘n horde personeel rondom my. Die kwaksalwer en een tegnikus kon tog onmoontlik narkose toedien en al die ander pligte nakom. Iemand moes tog sien dat die indringer on bekend aan hulle is.

Blomme ·

Sjoe… Wat nie nog alles nie. Kan die mens nog sieker word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.