VSA-regter hersien prins Harry se visum ná bekentenis oor dwelms

Prins Harry tydens vanjaar se Invictusspele in Kanada. (Foto: Don MacKinnon/AFP)

Prins Harry, die hertog van Sussex, se Amerikaanse visumaansoek word nou deur ʼn regter hersien nadat die Heritage Foundation, ʼn konserwatiewe dinkskrum in die VSA, verlede jaar die federale regering hof toe gesleep het om te bepaal of ʼn visum onregmatig aan die Britse prins toegeken is.

Dié stigting poog om ingevolge die wet op vryheid van inligting die prins se visumaansoek en gepaardgaande dokumente bekend te maak.

Dit kom nadat hy openhartig oor die gebruik van dwelmmiddels soos dagga, kokaïen en towersampioene in sy jonger jare in sy opspraakwekkende memoires, Spare, vertel het.

Die dinkskrum, wat in Washington gebaseer is, het destyds gesê daar moet bepaal word of die hertog danksy sy koninklike status voorkeur geniet het, ondanks die feit dat hy moontlik op sy voltydse aansoek oor sy dwelmmisbruik gejok het toe hy saam met sy vrou, Meghan Markle, in 2020 na Kalifornië verhuis het.

Die egpaar woon tans in ʼn herehuis in die luukse woonbuurt Montecito nadat hulle as werkende Britse koninklikes die tuig neergelê het.

Ingevolge Amerika se wetgewing kan die gebruik van dwelms genoegsame rede wees om iemand se visum af te keur. Prokureurs vir die Amerikaanse regering voer egter aan dat die prins se bewerings in sy boek “nie genoegsame bewys is” dat hy wel dwelms misbruik het nie, berig die Britse koerant The Independent.

Ná die hersiening sal daar besluit word of die dokumente openbaar gemaak gaan word of nie.

Donald Trump, voormalige Amerikaanse president, het in Maart tydens ʼn eksklusiewe onderhoud met die Britse netwerk GB News gesê Harry behoort nie “spesiale voorregte” te hê as die owerhede ontdek dat hy wel tydens sy visumaansoek gejok het nie.

Trump het gewaarsku dat ʼn onsekere toekoms in Amerika vir prins Harry voorlê indien hy weer tot president verkies word.

Bronne: Independent UK, Forbes, New York Times.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die migrante van die suide bring sommer hul eie dwelms saam.

Sobymykoolkop ·

Jy mis die punt Swartbees. Ganie oor dwelmgebruik, gaan oor hy gelieg het op sy aansoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.