VSA-verkiesing bepalend vir Biden én Trump

Die middeltermynverkiesing gaan bepalend vir pres. Joe Biden se politieke toekoms wees. (Foto: Nathan Howard/Getty Images/AFP)

Amerikaners stem Dinsdag in ʼn belangrike middeltermynverkiesing wat die politieke toekoms van nie net pres. Joe Biden kan bepaal nie, maar ook dié van sy voorganger, Donald Trump, wat reeds alles gedoen het behalwe om amptelik te verklaar dat hy weer in 2024 tot president verkies wil word.

Biden se Demokrate klou vir lewe en dood aan die kongres ná ʼn stryd wat die president bestempel het as ʼn “deurslaggewende” oomblik vir die Amerikaanse demokrasie, terwyl Trump se Republikeine hard veg oor brood-en-botter-kwessies soos inflasie en misdaad.

Biden het gewaarsku dat demokrasie en basiese regte Dinsdag op die spel is, terwyl Republikeine aanvoer ʼn stem vir die Demokrate beteken nog stygende inflasie en ʼn toename in geweldsmisdaad.

Die verkiesingsuitslag gaan ook bepaal of die 80-jarige Biden, die oudste Amerikaanse president nog, ʼn tweede termyn in 2024 gaan probeer behaal en of hy opsy gaan staan. Volgens peilings is minder as 50% van kiesers tevrede met Biden se prestasie. Sy eerste termyn is gekenmerk deur ondersoeke en teenkanting teen bestedingsplanne.

“Die mag is in julle hande,” het Biden by ʼn saamtrek naby die hoofstad gesê.

Trump, wat kwalik bedekte verwysings na nog ʼn termyn in die Withuis maak, het op die vooraand van die verkiesing gesê hy gaan volgende week ʼn “groot aankondiging” doen, terwyl Biden ʼn laaste oproep aan Demokrate gerig het om in groot getalle by die stembusse op te daag.

Biden het Maandagaand by die Withuis gesê die Demokrate gaan ʼn oorwinning in die Senaat behaal, maar hy het nietemin toegegee dit gaan ʼn taai stryd wees om die Huis te behou en dat sy lewe in Washington “veel moeiliker” kan word.

Indien die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat vir die Demokrate val, gaan Biden nie veel meer as ʼn sukkelaar-president wees nie en met die Kongres uit Demokrate se hande, gaan sy wetgewende agenda ineenstort.

Die Demokratiese Party het die afgelope twee jaar die meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat gehandhaaf en dit het Biden gehelp om sy wetgewing deur te voer. Die Demokrate se meerderheid is egter bitter klein.

Dit gaan vrae skep oor alles van beleid oor die klimaatskrisis – wat Biden vandeesweek by die COP27-beraad in Egipte sal voorlê – tot Oekraïne, waar Republikeine ongeneë is om die huidige vlak van finansiële en weermagsteun te handhaaf.

Nog Trump-ondersteuners in die Kongres gaan ook die skuif binne die Republikeinse Party versnel wat momentum gekry het ná die eiendomsmagnaat Hillary Clinton in 2016 se presidensiële stryd geklop het.

Ten spyte van strafregtelike ondersoeke na hoogs geheime dokumente uit die Withuis en ʼn poging om die 2020-verkiesing te laat omkeer, het Trump die middeltermynverkiesing gebruik om sy status as de facto- Republikeinse leier te verstewig en die slagordes op te stel vir nog ʼn termyn as president.

Trump het die afgelope week aan ondersteuners in Dayton, Ohio, gesê indien hulle die “agteruitgang en val van Amerika steun”, moet hulle vir die “radikale, linkse, waansinnige mense” stem.

“Indien jy die verwoesting van ons land wil stuit, moet jy [Dinsdag] in ʼn groot, rooi golf Republikeins stem.”

Landwyd het burgers oproepe op mekaar gedoen om hul kruisies te gaan trek in ʼn verkiesing wat tradisioneel nie ʼn groot opkoms het nie.

Meer as 40 miljoen stemme is reeds deur vroeë kiesopsies uitgebring, wat beteken selfs voor verkiesingsdag het die uitkoms al vae buitelyne begin wys.

Op die spel is al 435 setels in die Huis, ʼn derde van die 100 senaatsetels en ʼn groep poste op staatsvlak. Vier state (Kalifornië, Vermont, Kentucky en Michigan) hou ook referendums oor aborsies.

Die Senaat in Pennsilvanië, Nevada, Arizona, Georgië, Wisconsin, New Hampshire en Ohio word ook betwis en enige van die state kan die magsbalans verander.

Die finale verkiesingsuitslae kan eers ná dae – en in sommige gevalle selfs weke – ná die verkiesing bekend gemaak word en dit kan tot bittere twis lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Aai ·

Biden you are the weakest link.VSA kort iemand wat hulle ekonomie kan regruk en dit is nie die Demokrate.

Vonny ·

Trump vir president!!!
Trump is reguit en doen sy werk.
Hy is teen alles wat verkeerd is.
Soos bv aborsie en
Onwettige immigrante!

Hy regeer met n ysterhand.
SA kort n Trump.

Lian ·

Net jamer hy het nie die charisma van ‘n president soos pres. Reagan nie

Gawie ·

Ek het geen probleem dat die Republikeine weer aan bewind kom nie, maar hou asseblief net vir Leuenaar Trump weg uit die politiek. Hy het Amerika die grootste skade ooit berokken met al sy swak besluite.

Gawie ·

Manie, die manier wat hy ie Covid-krisis wanbestuur het. Die manier wat hy die vorige verkiesing probeer afmaak het as ongeldig. Die manier wat hy sy ondersteuners opsweep met leuens. Die manier wat hy Amerika vervreem het van die res van die wêreld met sy leuens en boelie-agtige houding. Hoeveel wil jy nog hoor? As hy sy mond oopmaak dan praat hy nonsens.

Tubac ·

Nou wat is jou houding teenoor Biden. Amerika is op die pad van verval en Biden word nou beskou dat hy swakker is as Trump. Trump is deur die Ryk agterbakses en die media swart gesmeer, wat nog steeds leuns verkoop. Terloops sy kamtige hoogs geheime dokumente het die wind van voor gekry. Covid was swak bestuur regoor die wereld. N persoon kan slegs n ingeligte mening lug as hy woon in die VSA.

Gaitsigubib ·

Manie vra noem die leuns, dan is een van jou voorbeelde “hy sweep hulle op met sy leuns” en nog een “hy vervreem die wereld met sy leuns”, en hy praat “nonsens”. Eish, ek se maar eerder niks….

Andre ·

Joe Biden is die swakste staatshoof ter wereld naas Rampoker!!Trump skop hom uit die wit huis uit!!

Lian ·

Trump regeer soos ‘n besigheidsman en nie soos ‘n politikus nie. Danksy die internasionale nuus het ons ‘n idee wat daar aangaan. Die onwettige immigrante vat die Amerikaners se werk, en hulle verorber die mediese hulp (Obamacare) . En dan die laaste een weet ons almal wat dit is en ek wil dit nie eens noem nie

Fran ·

Hierdie verkiesing is absoluut bepalend vir Amerika se toekoms. Wen Dems is hulle verseker van ondergang. As Rep wen is daar moed vir ‘n beter toekoms.

Tubac ·

Soos deur die Dems en Media versprei en die res van die wereld het daarvoor geval. Die rykes en media was baie bang dat hulle korrupsie aan die kaak gestel gaan word, veral die wat deur onwettige immigrasie baat gevind het, en nog steeds daarby baat.

Niklaas ·

Die media menere soos daai spul by CNN is , en was , Donald Trump se grootste vyand. Hul sou selfs die beeld van O J Simpson opgebou en hom verkiesbaar laat stel het , net om Trump uit te stoot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.