Waardevolle skelet van dinosourus opgeveil

Die skelet is vir $6,1 miljoen opgeveil. (Foto: Angela Weiss/AFP)

ʼn Skelet van ʼn Gorgosourus-dinosourus is Donderdag vir $6,1 miljoen (R100 miljoen) by ʼn veiling in New York in die VSA verkoop. Dit is die eerste keer wat ʼn skelet van dié soort dinosourus opgeveil word.

Die skelet is sowat 3 m hoog en byna 7 m lank en die afslaer Sotheby’s het verwag dat dit vir tussen $5 miljoen en $8 miljoen sou verkoop.

Dit is die eerste keer dat Sotheby’s ʼn volledige dinosourus-skelet opgeveil het sedert hy Sue die Tyrannosourus Rex (T-Rex) in 1997 vir $8,36 miljoen verkoop het.

“Die uitkoms van hierdie veiling plaas nou die Gorgosourus-dinosourus onder die waardevolste dinosourusse wat ooit op ʼn veiling verkoop is en stel ʼn nuwe maatstaf vir toekomstige Gorgosourus-skelette wat opgeveil word,” het Sotheby’s in ʼn verklaring gesê.

ʼn Tipiese volwasse Gorgosourus-dinosourus het sowat twee ton geweeg en was effens kleiner as die meer bekende T-Rex. Paleontoloë vermoed dat die Gorgosourus vurig en vinniger as die T-Rex was, met ʼn sterker byt van ongeveer 42 000 newton in vergelyking met die 35 000 van die T-Rex.

Die opgeveilde skelet is in 2018 in die Judithrivierformasie naby Havre in die Amerikaanse deelstaat Montana ontdek.

“Vandag se Gorgosourus het sonder ʼn naam op die veiling gekom, wat die koper die eksklusiewe geleentheid gebied het om die dinosourus te vernoem,” het Sotheby’s gesê.

Dit is egter nie bekend wie die reuse‑skelet aangekoop het nie.

In teenstelling met die meeste lande, beperk die VSA nie die verkoop of uitvoer van fossiele nie, wat beteken dat dié skelet enige plek in die wêreld kan beland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pyl ·

Dis nodig om te weet dat daar nog nooit ‘n dinosourus skelet wat meer as 70% volledig is ontdek is nie.

Dis ook interessant om te weet dat paleontologië meestal hul verbeelding moet gebruik om te raai hoe die ander bene wat kort sou lyk.

Daar is ook verskeie dinosourusse vandag waarvan die kop/skedel uitgedink is, en hul self kon kies hoe hul dink dit lyk.

Laastens is dit belangrik om te weet dat alle werklike bene opgesluit is en nie toeganklik is vir gewone mense nie, al die skelette wat jy sien en ook die een wat vir die hoë prys verkoop was, is almal gebou uit gips, gemaalde bene van diere, gom ensovoorts en meestal gemaak in China.

Dus was daai gekoopte skelet gemaak in China.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.