Wat word van die koningin se troeteldiere?

‘n Foto van koningin Elizabeth II op 26 Februarie 1970 saam met een van haar corgi-honde. (Foto: Central Press/AFP)

Koningin Elizabeth II was alombekend as diereliefhebber sedert sy 70 jaar gelede die troon bestyg het.

Die koningin, wat Donderdag in die ouderdom van 96 dood is, en haar liefde vir haar troeteldiere was so sinoniem dat talle nou wonder wat van die viervoetige “koninklike kinders” gaan word.

Alles het begin toe die koningin se ouers in 1933 hulle eerste hond, ʼn corgi genaamd Dookie, deel van die koninklike familie gemaak het.

Haar volgende corgi, Susan, was ʼn 18de verjaardaggeskenk van haar pa, koning George VI. Nadat Susan saamgereis het op Elizabeth en haar man, Philip, se wittebrood in 1949, het die corgi geboorte geskenk aan ʼn paar hondjies, het Reader’s Digest berig.

Daarmee het die lyn van koninklike corgi’s begin wat so nou met koningin Elizabeth II geassosieer word. Daar word vermoed dat die koningin ʼn corgi-bloedlyn begin het wat vir ten minste 14 geslagte honde gesorg het.

Koningin Elizabeth II is in 2016 saam met haar honde afgeneem vir haar 90ste verjaardag. (Foto: Annie Leibovitz)

Sedert sy die troon in 1952 bestyg het, het die koningin meer as 30 corgi’s besit. Sy het in ʼn stadium selfs tien op ʼn slag gehad – en het niks minder as die koninklike behandeling vir hulle verwag nie.

Die koningin se honde lei ʼn lewe van luuksheid in die paleis. Volgens Hello! word die honde gepamperlang en word tuisgemaakte etes gevoer wat deur ʼn sjef voorberei word.

Darren McGrady, ʼn voormalige koninklike sjef van 11 jaar, het aan Hello! gesê daar was maandeliks amptelike spyskaart vir die honde uitgewerk.

“Die geregte sou een keer per maand gekies word en na ons aangestuur word in die kombuis. Dit sou uiteensit wat die honde daagliks moet eet: Een dag sou dit biefstuk wees, die volgende dag hoender en die dag daarna lam- of haasvleis.”

Dié hartroerende illustrasie word op sosiale media versprei sedert die koningin se afsterwe. Die oorsprong is onbekend.

ʼn Koninklike kenner het kort voor die koningin se dood aan Newsweek gesê dat corgi-honde die koningin “se eerste en langdurigste liefde is”.

“Sy is lief vir diere en is versot op honde. Hulle is haar eerste en laaste liefde,” het Ingrid Seward, koninklike biograaf, gesê.

In haar laaste dae het die koningin drie honde gehad. Candy, ʼn worshond-corgi-kruising (bekend as ʼn dorgi), is sowat 13 jaar oud.

Dit is voorheen onthul dat die koningin met opset nie in onlangse jare nog honde tot haar huishouding toegevoeg het nie. Volgens The Independent het sy in 2015 aan ʼn perde-afrigter gesê sy wou nie “enige jong honde agterlaat nie”.

Die koningin het egter onlangs nog twee corgi’s in die koninklike familie verwelkom. Die eerste was Muick, wat as ʼn geskenk aan die koningin gegee is toe prins Philip in 2021 gehospitaliseer is.

‘n Foto van koningin Elizabeth II en haar dorgi-hond, Candy. Hier besigtig die koningin aandenkings van haar goue- en platinum-jubileums in die Oak Room by die Windsor-kasteel, wes van Londen. (Foto: Steve Parsons/POOL/AFP)

Haar jongste seun, prins Andrew, en kleindogters, prinses Beatrice en prinses Eugenie, het in Junie verlede jaar vir haar nog ʼn corgi genaamd Sandy gegee, op die dag wat prins Philip sy 100ste verjaardag sou vier.

Terwyl daar geen amptelike plan vir die honde se heenkome bekend gemaak is nie, word daar aangeneem dat die koningin se kinders die honde sal erf.

“Ek glo die familie sal na die honde omsien, moontlik omdat Andrew die een was wat die honde vir haar gegee het. Twee van die honde is nog jonk,” het Seward gesê.

Bykomende bronne: The New York Post, Newsweek, Women’s Health, Hello!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grond ·

Die koningin was ‘n goeie antie as sy van honde en perde gehou het.

Jaco ·

By ons word belastingbetalers se geld op onnodige reise, duur onthale, die opgradering van Zuma se Nkandla-paleis se sekuriteit en en ander onnodige goed uitgegee. In die Verenigde Koninkryk word dit op biefstuk en hoender vir die koningin se corgis uitgegee. Ek sou eerder daar ‘n belastingbetaler wou wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.